Pous Benedictus XIII[1] is gebore as Pietro Francesco Orsini op 2 Februarie1649 in Gravina, Koninkryk Napels. Hy was die seun van Fernando III Orsini, hertog van Gravina en Giovanna Frangipani della Tolfa. Hy was die laaste lid van die Orsini-familie wat pous geword het. Sy Orsini voorlopers was Pous Celestinus III en Pous Nicolaas III. Toe hy tot die orde van die Dominikane toegetree het, het hy die kloosternaam Vincenzo Maria Orsini op 13 Februarie1668 aangeneem. Hy word priester gewy op 24 Februarie1671 deur kardinaal Emilio Altieri (later Pous Clemens X). Vincenzo word kardinaal-priester van San Sisto op 22 Februarie1672 en was later biskop van Manfredonia, biskop van Cesena en aartsbiskop van Benevento. Op 29 Mei1724 volg hy Pous Innocentius XIII op en word gekroon op 4 Junie1724 deur kardinaal Benedetto Pamphili. Hy regeer tot sy dood op 21 Februarie1730 en word opgevolg deur Pous Clemens XII.
Die naam ‘Benedictus’ beteken 'geseënde'.
Aanvanklik het Pous Benedictus XIII[2] homself Benedictus XIV genoem, maar nadat die vorige Benedictus XIII as teenpous geklassifiseer is, het hy die volgnommer XIII gebruik. Hy het probeer om die dekadente lewenstyl van die Italiaanse priesters en kardinale te versober. Hy het die lotery van Rome verbied. Volgens kardinaal Lambertini (later Pous Benedictus XIV) het die pous nie geweet hoe om te regeer nie en het regering oorgelaat aan kardinaal Niccolo Coscia. Niccolo was die pous se sekretaris toe Benedictus aartsbiskop van Benevento was. Kardinaal Coscia het die pouslike skatkis geruïneer en moes uit Rome vlug na die pous se dood.
In sy buitelandse politiek het die pous te doen gekry met koning Johan V van Portugal en die Janseniste. Hy het Pous Urbanus VIII se verbod op die rook van tabak teruggetrek. Benedictus het self minstens 139 biskoppe gewy veral in Duitsland, Frankryk, Engeland en die nuwe wêreld. Die biskoppe het op hulle beurt weer nuwe biskoppe in hulle onderskeie lande gewy, met die gevolg dat 90% van die huidige biskoppe hulle episkopale lyn kan deurtrek na Pous Benedictus XIII.
In 1712 het hy die bekende Spaanse trappe in Rome ingehuldig. Pous Benedictus is ook die stigter van die Universiteit van Camerino.
Die kollege van kardinale
Pous Benedictus XIII het 29 nuwe kardinale aangestel in 12 konsistories.
Artaud de Montor, Alexis, Chevalier de. (1911) The lives and times of the popes (vertaal vanaf "Les vies des papes") The Catholic publication Society of America, New York. Heruitgee: Kessinger Publishing. http://www.saint-mike.org/library/ papal_library/default.asp
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.
Verwysings
↑Benedict XIII. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
↑Healy, P. (1907). Pope Benedict XIII. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek Februarie 7, 2011 by: http://www.newadvent.org/cathen/02431a.htm
Eksterne skakels
Die Engelse Wikisource bevat bronmateriaal oor hierdie onderwerp onder die titel: