Menslike gemeenskappe het hulle al in die Jongsteentydperk in die gebied gevestig wat tans as Engeland bekend staan, maar dit was die Angele, een van die Germaanse stamme wat hulle in die 5de en 6de eeu op die eiland gevestig het, wat hul naam aan die land verleen het. In 927 is die verskillende klein koninkryke in 'n gemeenskaplike Engelse Ryk verenig.
Vanaf die groot ontdekkingstydperk in die 15de eeu het Engeland beduidende kulturele, regtelike, ekonomiese en uiteindelik ook taalkundige invloed op ander wêrelddele uitgeoefen. Die Engelse regstelsel is net soos die Anglikaanse Kerk en die Engelse taal in ander lande oorgeneem, terwyl die Engelse parlementêre regeringstelsel as voorbeeld vir staatkundige bedelings in ander lande gedien het. Engeland was in die 18de eeu ook die bakermat van die nywerheidsomwenteling wat van hier na ander Europese en uiteindelik ook oorsese lande uitgebrei het en van Engeland die eerste nywerheidsland ter wêreld gemaak het.
Leidende Engelse nywerheidstede soos Manchester, Birmingham en Liverpool het grondstowwe, wat uit alle hoeke van die wêreld na Engeland ingevoer is, tot goedere verwerk wat wêreldwyd bemark is, terwyl Londen as hoofstad en regeringsetel tot een van die wêreld se voorste metropole en die politieke, ekonomiese en kulturele spilpunt van die Britse Ryk ontwikkel het. Vandag beslaan die metropolitaanse gebied van Groter Londen groot dele van Suidoos-Engeland en speel steeds 'n eersterangse ekonomiese rol as die finansiële spilpunt van Europa en as die sentrum van innovasie op 'n verskeidenheid terreine – veral populêre kultuur.
Etimologie
Die naam "Engeland" is afgelei van die Ou Engelse naam Englaland wat "land van die Angele" beteken.[5] Die Angele was een van die Germaanse stamme wat hulle hulle tydens die vroeë Middeleeue op Groot-Brittanje gevestig het. Hulle was afkomstig uit die streek Angeln in die huidige DuitsedeelstaatSleeswyk-Holstein.[6] Die vroegste bekende geruik van die term as "Engla londe" was in die laat 9de-eeuse vertaling van Bede se Historia ecclesiastica gentis Anglorum in Ou Engels. Die term is destyds gebruik om na "die land wat deur Engelse bewoon is" te verwys en dit het Engelse ingesluit wat hulle gevestig het in die huidige suidooste van Skotland, destyds deel van die Engelse koninkryk Northumbria. Volgens die Angel-Saksiese Kroniek het die Domesday Book van 1086 die hele Engeland gedek, dus die Engelse Koninkryk, maar enkele jare later noem die Chronicle dat koning Malcolm III "uit Scotlande na Lothian in Englaland" gegaan en dus die meer antieke betekenis gebruik het.[7]
Die vroegste bekende verwysing na die Angele was in die 1ste-eeuse werk Germania deur Tacitus, waarin hy die Latynse woord Anglii gebruik het.[8] Die etimologie van die stamnaam self word deur geleerdes betwis; daar is voorgestel dat dit van die Angeln-skiereiland se vorm afkomstig is, 'n angular (hoekige) vorm.[9] Hoe en hoekom 'n term afgelei is van die naam van 'n stam wat minder betekenisvol was as ander, byvoorbeeld die Saksers, en hoe dit die naam van 'n hele land geword het, is onbekend, maar dit blyk dat dit verband hou met die gebruik om die Germaanse mense in Brittanje Angli Saxones of Engelse Saksers te noem om hulle te onderskei van die vastelandse Saksers (Eald-Seaxe) van Ou Sakse in Duitsland.[10] In Skots-Gaelies is die woord vir Engeland (Sasunn) afgelei van die Saksers;[11] op 'n soortgelyke manier het die Walliese naam vir die Engelse taal Saesneg ontstaan. 'n Romantiese naam vir Engeland is Loegria wat verwant is aan die Walliese woord vir Engeland, Lloegr, en bekendheid verwerf het deur die Arthurlegende. Albion is ook 'n poëtiese manier om na Engeland te verwys,[12] hoewel dit oorspronklik die hele eiland Groot-Brittanje bedoel het.
Sokker is die gewildste van hierdie sportsoorte in Engeland. Die Engelse nasionale sokkerspan, met sy tuiste op Wembley-stadion is, het in 1872 die eerste sokkerwedstryd ooit teen Skotland gespeel.[13] Die wedstryd het in Hamilton Crescent, Glasgow, die tuiste van die West of Scotland Cricket Club, plaasgevind. Engeland het as "tuiste van sokker" die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966 aangebied en tydens die eindstryd Wes-Duitsland met 4–2 geklop.[14] Met 'n Britse televisie gehoorpiek van 32,30 miljoen is die eindstryd die mees gesiene televisie-gebeurtenis ooit in die Verenigde Koninkryk.[15] Tydens die UEFA Europa-beker 2020 het Engeland vir die eerste keer die eindstryd gehaal, maar hulle is deur Italië met 3–2 ná strafskoppe verslaan. In 2024 het hulle weer na die eindstryd deurgedring, maar hulle het dié keer met 2–1 teen Spanje vasgeval. Engeland se hoogste sokkerliga is die Premier League, gevolg deur die Football League Championship.
Daar word algemeen aanvaar dat krieket in die vroeë Middeleeue as 'n wedstryd tussen die landbou- en metaalbewerkingsgemeenskappe van die Weald ontstaan het. Die Engelse nasionale krieketspan is 'n samestelling van Engelse en Walliese krieketspelers en een van die toetskrieketlande en volle lidland van die Internasionale Krieketraad. Een van dié sport se oudste en gewildste wedywering is Die As-reeks tussen Engeland en Australië wat sedert 1882 gespeel word. Engeland het al vyf krieketwêreldbekertoernooie (in 1975, 1979, 1983, 1999 en 2019) aangebied, meer as enige ander land. Engeland het die eindstryd tot dusver vier keer gehaal en die 2019-eindwedstryd teen Nieu-Seeland volgens aantal grenshoue in die beslissende Superboulbeurt gewen en sodoende hul eerste titel ingepalm.[16] Ná sokker in 1966 en rugby in 2003 is krieket in 2019 die derde wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het. Engeland het in 2009 die T20I-wêreldbeker aangebied en is ook tweemalige wenner van dié toernooi (in 2010 teen Australië en in 2022 teen Pakistan). Daarbenewens is drie Kampioentrofeë (in 2004, 2013 en 2017) in Engeland aangebied. Lord’s in Londen word dikwels Home of Cricket ("tuiste van krieket") genoem.[17] Saam met Ierland en Skotland sal Engeland die T20I-wêreldbeker 2030 aanbied.[18]
Gholf is gewild in Engeland; deels te danke aan sy kulturele en geografiese bande met Skotland, die tuiste van gholf.[22] Engelse gholfspelers wat die Grand Slam gewen het, sluit in: Cyril Walker, Tony Jacklin, Nick Faldo en Justin Rose vir mans en Laura Davies, Alison Nicholas en Karen Stupples vir vroue. Die wêreld se oudste gholftoernooi is die Britse Ope en word in sowel Engeland as Skotland gespeel. Die tweejaarlikse gholftoernooi, die Ryderbeker, is na die Engelse sakeman Samuel Ryder genoem wat die geleentheid geborg en die trofee geskenk het.[23] Nick Faldo is die suksesvolste Ryderbeker-speler ooit wat die meeste punte (25) van enige speler van die Europese of Amerikaanse spanne behaal het.[24]
Tennis het in die laat 19de eeu in Birmingham ontwikkel en die Wimbledon-kampioenskap is die oudste en gewildste tennistoernooi wêreldwyd. Wimbledon is 'n toernooi wat 'n belangrike plek in die Britse kultuurkalender het. Fred Perry was die laaste Engelsman wat die Wimbledon-kampioenskap in 1936 gewen het. Hy was die eerste speler wat al vier Grand Slam-enkelspeletjies gewen het[25] en het die span van Groot-Brittanje tot vier Davisbeker-oorwinnings gelei. Engelse vroue wat Wimbledon gewen het, sluit in: Ann Haydon Jones in 1969 en Virginia Wade in 1977.
Londen het die Olimpiese Somerspele reeds drie keer aangebied (1908, 1948 en 2012). Engeland ding in die Statebondspele mee, wat elke vier jaar aangebied word, waarvan die Interrykkampioenskappe 1911 in Londen, die Britse Rykspele 1934 in Londen, die Statebondspele 2002 in Manchester en die Statebondspele 2022 in Birmingham gehuisves is.[27]