Anguilla (eiland)
Anguilla (Engels: [æŋˈɡwɪlə]) is 'n klein eilandgroep in Noord-Amerika en 'n oorsese gebied van die Verenigde Koninkryk met 'n oppervlakte van 91 km² en 'n bevolking van 14 764 in 2016. Dit bestaan uit die hoofeiland Anguilla en 'n getal kleiner eilande; almal behoort tot die Klein-Antille. Anguilla is in die noordoostelike Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dié eilandgebied grens in die weste aan die Britse Maagde-eilande en in die suide aan Sint Maartin. Die hoofstad en grootste stad is The Valley, wat op die hoofeiland Anguilla geleë is. Anguilla se naam is van die ou Spaanse woord anguila vir die Palingagtiges afgelei en verwys ná die hoofeiland se vorm. Die presiese datum van 'n Europese vestiging in Anguilla is onbekend. Volgens sommige bronne het Christophorus Columbus dié eilandgroep tydens sy tweede reis vir Europa ontdek, terwyl volgens ander bronne in 1564 die Franse Hugenoot en adellike René Goulaine de Laudonnière as eerste Europeër in Anguilla voet aan wal gesit het. Die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie het in 1631 op die hoofeiland Anguilla 'n fort opgerig, maar nadat dit reeds in 1633 deur Spanjaarde vernietig is, weer van dié eiland onttrek. In 1650 het Engelse vanaf St. Kitts en Nevis op Anguilla gevestig.[6] Tydens die vroeë koloniale tydperk is Anguilla vanaf Antigua en Barbuda geregeer, maar in 1825 is dit onder administratiewe beheer van die nabygeleë St. Kitts en Nevis geplaas. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie. In 1967 het die Verenigde Koninkryk volle innerlike outonomie aan St. Kitts en Nevis toegestaan en Anguilla is, ten die wil van die bevolking, by die nuwe verenigde afhanklikheid St. Christopher-Nevis-Anguilla ingelyf. In 1980 kon Anguilla van St. Kitts en Nevis afstig en het 'n separate Britse kroonkolonie geword.[7] Anguilla word deur die Verenigde Nasies as 'n gebied sonder eie regering beskou.[8] Anguilla is 'n gesogte vakansieplek en die ekonomie is veral op toerisme en buitelandse bankdienste gebaseer.[9] SportSeilvaart is Anguilla se nasionale en gewildste sport,[10] terwyl krieket 'n ander gewilde sport is. Anguilla is een van die gebiede wat met ander Karibiese state spelers beskikbaar stel vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan, een van die "nasionale spanne" in internasionale krieket met toetsstatus. Die Wes-Indiese nasionale krieketspan het aan amper elke krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, die eerste twee toernooie in 1975 en 1979 gewen en slegs die 2023-toernooi misgeloop. Verwysings
Bronnelys
Eksterne skakels
Information related to Anguilla (eiland) |