Nieu-Kaledonië (Frans: Nouvelle-Calédonie vir Nieu-Skotland) is 'n oorsese gebied van Frankryk in die Stille Oseaan en lê in Melanesië. Nieu-Kaledonië bestaan uit drie provinsies met 'n oppervlakte van 18 576 km² en het 'n bevolking van 271 407 in 2019 gehad.
Nieu-Kaledonië lê oos van Australië, noord van Nieu-Seeland, suid van Vanuatu en suidwes van Fidji. Die hoofstad en grootste stad is Nouméa, wat op Grande Terre, die grootste eiland van Nieu-Kaledonië, geleë is. Die Nieu-Kaledoniese Koraalrif het sedert 2008 die status van 'n Unesco-Wêrelderfenisgebied. Die Matteus- en Hunter-eilande word deur beide Frankryk en Vanuatu opgeëis.
Die ekonomie van Nieu-Kaledonië steun op die ontginning van nikkelerts en toerisme, maar is tegelykertyd op Franse subsidies ter waarde van VS$1,48 miljard per jaar aangewese.[4]
Volgens die Ooreenkoms van Nouméa, wat op 5 Mei 1998 onderteken en op 8 November van dieselfde jaar in 'n referendum deur Nieu-Kaledoniese kiesers goedgekeur is, is Nieu-Kaledonië 'n oorsese gebied van Frankryk met selfregering. Die politieke status van Nieu-Kaledonië as sogenaamde Collectivité sui generis word deur die artikels 76 en 77 van die Franse grondwet gedefinieer. In ooreenstemming met hierdie artikels is in November 2018 'n stemming oor die onafhanklikheid van die gebied gehou. 56,4 persent van die stemgeregtigde bevolking van 175 000 het die voorstel verwerp, 43 persent was ten gunste van 'n onafhanklikwording.
Die onafhanklikheidsbeweging word veral deur etniese (Melanesiese) Nieu-Kaledoniërs gesteun wat tans nog net sowat veertig persent van die totale bevolking verteenwoordig. Meer as 'n derde van die bevolking is nasate van Franse setlaars en bannelinge (sogenaamde Caldoches) of onlangse Franse immigrante (Métropolitains). Daarnaas het immigrante van ander Suidsee-eilande soos Viëtnamese en Indonesiërs hulle hier gevestig van wie baie Franse burgerskap aanvaar het.