Die eiland is 'n Australiese eksterne gebied met 'n oppervlakte van 34,6 km² en het 'n bevolking van 2 188 in 2021 gehad. Norfolk is in 1774 deur kaptein James Cook ontdek en die hoogste punt is 318 m (Bates Berg). Die hoofstad is Kingston en die grootste nedersetting is Burnt Pine.
Geskiedenis
Daar is argeologiese bewyse op die eiland gevind wat dui op daarop dat Polinesiese seevaarders tussen die dertiende en vyftiende eeu die eiland bewoon het.
Kaptein James Cook besoek die eiland in Oktober 1774 en op 6 Maart 1788 neem die Britte besit van die onbewoonde eiland. Die eiland se gematigde klimaat en vrugbare grond is geskik vir landbou en gevolglik voorsien Norfolkeiland in van die voedselbehoeftes van die Britse nedersetting te Sydney. Sommige vrye setlaars vestig op die eiland. Dit word egter hoofsaaklik as 'n strafkolonie gebruik tot en met 1814 toe die Britte die eiland verlaat omrede die nedersetting baie afgeleë is asook die afwesigheid van 'n natuurlike hawe.
Die Britte keer terug in 1825 met die uitsluitlike doel om weereens 'n strafkolonie te vestig. Dié gevangenis word wêreldwyd berug vir die mishandel van die gevangenis. In die vroeë 1850’s begin die nedersetting te taan en teen 1855 woon daar slegs 11 mense op die eiland.
Op 8 Junie 1856 word die eiland oorhandig aan die Pitcairn-eilanders. Hulle was die berugte afstammelinge van die HMS Bounty-rebelle en hulle Tahitiaanse vroue. Die 196 oorspronklike setlaars woon eers in die gevangenisgeboue in Kingston. Hulle ontvang later 50-akker plasies wat hulle bewoon en bewerk en waar hulle selfversorgend word. Omrede hierdie setlaars gefokus was op landbou, word die inheemse woude op grootskaal afgekap om plek te maak vir weivelde en saailande.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog word 'n vliegveld op die eiland opgerig vanweë Norfolkeiland se strategiese ligging. Na dié oorlog bied die lughawe maklike toegang vir toeriste tot die eiland en dra by tot die groei van die toerismebedryf.[6][7]
Norfolkeiland het 'n sub-tropiese klimaat wat gematigd word deur die omliggende see. Die gemiddelde maksimum temperature wissel van 18 °C tot 19 °C gedurende die wintermaande en wissel tussen 23 °C en 25 °C gedurende die somermaande. Die hoogste temperatuur wat al ooit aangeteken is was 28,4 °C op 11 Februarie 1996.
Die gemiddelde minimum temperature wissel van 13 °C tot 15 °C gedurende die wintermaande en wissel tussen 18 °C en 20 °C gedurende die somermaande. Die laagste temperatuur wat al ooit aangeteken is was 6,2 °C op 29 Julie 1953. Die jaarlikse gemiddelde reënval is 1 312 mm, met die hoogste reënval wat plaasvind vanaf Mei tot Augustus. Donderstorms kom voor gedurende die winter en die lente met gemiddeld twaalf donderstorms per jaar waarvan gemiddeld een donderstorm per jaar tydens die winter gepaardgaan met hael.[9]
Nasionale parke
Norfolkeiland Nasionale Park en Botaniese tuin
Norfolkeiland Nasionale Park en Botaniese tuin word geproklameer in 1986 en beslaan 10% van die oppervlakte van Norfolkeiland. Die park bevat die hoogste punt genaamd Bates Berg (319 m). Daar is vyftien wandelpaaie van tot 1,7 km lank. Die park beslaan pragtige natuurskoon en beskerm Norfolkeiland dennebome wat tot 60 m hoog staan asook die wêreld se langste boomvarings (Cyathea brownii). Ten minste veertig plantspesies en sewe voëlspesies (onder andere die Norfolkeiland Groen Papegaai) is endemies aan die eiland. Die noordelike deel van die park is geleë langs die ruwe kuslyn wat die Kaptein Cook Monument en piekniekarea bevat asook pragtige uitsig bied op 'n aantal klein eilandjies langs die kus.
Die park word geproklameer op 14 Desember 2013. Die marienepark begin 1 400 km oos van Evans Head, Nieu-Suid-Wallis (Australië) en omsluit Norfolkeiland. Die park is 188 444 km² groot met sommige dele tot 5 km diep. Die park bevat 'n Nationale Park asook 'n Veelvuldige Gebruiksone met 'n Spesiale Doelwitsone wat die eiland omsluit. Binne die park is daar twintig skeepswrakke, onder andere die HMS Sirius wat in 1790 gesink het.[10]
Demografie
Jaar
Bevolking
1991
1 912
1996
1 772
2001
2 037
2006
1 836
2011
1 795
2016
1 757
Bron: Australian Government, Department of Infrastructure, Transport, Cities and Regional Development.[11]
Die bevolking van Norfolkeiland was 1 748 in 2016, waarvan 46,8% manlik was en 53,2% vroulik was. Die media-ouderdom van die eilandbewoners was 49 jaar terwyl dit slegs 38 jaar is in die res van Australië.
Die eiland het een skool genaamd Norfolk Island Central School wat bestuur word deur die New South Wales Department of Education (voorskool tot jaar 12) en wat sedert 1906 geleë is te Middlegate. Vanaf 1856 tot 1906 word klasse aangebied in die Administrasiegebou in Kingston.[13]
Regering
Die selfbestuur wat Norfolkeiland in 1979 verkry het, ondergaan in Mei 2015 drastiese veranderinge toe die Norfolk Island Legislation Amendment Act 2015 inwerking getree het. Die Australiese regering aanvaar met hierdie wetgewing die verantwoordelikheid om alle dienste aan Norfolkeiland te verskaf en te befonds. Dit sluit egter uit dienste wat deur 'n plaaslike regering verskaf en befonds word. Deel van hierdie wetgewing is ook die totstandkoming van 'n verkose Norfolkeiland Distriksraad (Norfolk Island District Council) vanaf 1 Julie 2016. Die Norfolkeiland Distriksraad funksioneer soos 'n munisipaliteit en het vyf raadslede, insluitende die burgemeester.
Vanaf 1 Julie 2016 is Australiese belastingwetgewing, welsynswetgewing, immigrasiewetgewing, doeane- en gesondheidsmaatreëls van toepassing op Norfolkeiland. Dit sluit in Medicare, die Australiese staatsmediesefonds.
Die inwoners word sedert 2016 ook verplig om in die Australiese federale verkiesings te stem. Die eiland vorm saam met die suidelike deel van die Australiese Hoofstadgebied die setel genaamd Bean in die Huis van Verteenwoordigers in die federale parlement in Canberra.[14]
Ekonomie
Norfolkeiland is afhanklik van toerisme om ekonomiese groei te dryf. Gevolglik het Norfolkeiland 'n ekonomiese afswaai ervaar sedert die globale finansiële krisis (2008). Nagenoeg 40% van die ekonomiese bedrywighede is toerismeverwant en in 2016 het die nagenoeg 30 000 toeriste 'n geskatte AUD33 miljoen bygedra tot die ekonomie.[15]
↑(en) "Cocos (Keeling) Islands". Australiese Kantoor vir Statistiek. 27 Junie 2017. Besoek op 10 Oktober 2019.[dooie skakel]
↑(en) KPMG (2019). Monitoring the Norfolk Island Economy(PDF). Norfolk Islands: Department of Infrastructure, Transport, Cities and Regional Development. p. 4.