’n Eenvoudige groen baan met die sjahada-inskripsie en ’n swaard in wit in die middel van die vlag.
Die nasionale vlag van Saoedi-Arabië is op 15 Maart1973 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n eenvoudige groen baan met die sjahada-inskripsie en ’n swaard in wit in die middel van die vlag.
Ontwerp
Die Arabiese inskripsie op die vlag, in kalligrafiese Thuluth-skrif, is die sjahada of die Islamitiese geloofsverklaring:
لَا إِلٰهَ إِلَّا الله مُحَمَّدٌ رَسُولُ الله
lā ʾilāha ʾillā-llāh, muhammadun rasūlu-llāh
Daar is geen god buiten God nie, Muhammad is die boodskapper van God.[2]
Die groen kleur van die vlag verteenwoordig Islam en die swaard staan vir die Huis van Saoed, die stigtersdinastie van die land,[3] of die militêre mag en vaardigheid van Saoedi-Arabië.[4]
Die vlag se voor- en agterkante is identies om te verseker dat die sjahada korrek van beide kante gelees word (van regs na links). Die swaard is gepunt na links, in die rigting waarin die skrif loop. Die vlag moet só gehys word dat die vlagpaal vir die aanskouer aan die regterkant is, in teenstelling met die meeste ander vlae waar die vlagpaal aan die linkerkant van die vlag is. Die vlag se groen is Pantone 349 C (C90, M12, Y95, K40)[5]
Geskiedenis
Die Huis van Saoed, die regerende familie van Saoedi-Arabië, word lank reeds verbind met die Wahabisme. Die Wahabi’s het sedert die 18de eeu die sjahada op hul vlae gebruik.[6] In 1902 het Abdulaziz Abdulrahman Al-Saoed, leier van die Huis van Saoed en toekomstige stigter van die Koninkryk van Saoedi-Arabië, ’n swaard tot hierdie vlag toegevoeg.[6] Die ontwerp van die vlag is egter eers op 15 Maart 1973 gestandaardiseer en variante met twee swaarde en/of ’n wit vertikale baan aan die vlagpaalkant is dikwels gebruik. Teen 1938 het die het die vlag sy basiese voorkoms vorm aangeneem behalwe dat die swaard ’n ander ontwerp gehad het (met ’n krommer lem) en dat die sjahada meer van die vlag beslaan het.
Variant van die Saoedi-vlag, 1932 tot 1934
Variant van die Saoedi-vlag, 1934 tot 1938
Variant van die Saoedi-vlag, 1938 tot 1973
Vorige vlae
Die state wat Saoedi-Arabië voorafgegaan het was Nadjd en Hidjaz. Die staatsvlag van Nadjd was soortgelyk aan die hedendaagse Saoedi-vlag. Die staat van Hidjaz het die patroon gevolg van lande soos die Palestynse gebied en Soedan. Van 1902 tot 1921 is ’n ander Arabiese inskripsie gebruik.
Omdat die sjahada geag word heilig te wees word die vlag normaalweg nie op t-hemde of ander items gebruik nie. Saoedi-Arabië het beswaar gemaak teen die insluiting van die vlag op ’n voetbal wat FIFA beplan het vir die 2002 Sokkerwêreldbeker waarop alle deelnemende lande se vlae sou verskyn. Amptenare het gesê dat die skop van die belydenis met die voet totaal onaanvaarbaar was. ’n Poging van die Amerikaanse weermag om die guns van kinders in Afghanistan se Prost-streek, deur balle met die vlag van onder meer Saoedi-Arabië daarop uit te deel, het op protesoptogte uitgeloop.[7]
Die vlag word nooit op halfmas vertoon as roubetoon nie omdat die stryk van die vlag op laster neerkom.[8] Die vlag van Somaliland word ook nooit op halfmas vertoon nie.
Volgens wetgewing mag die vlag ook nie vertikaal vertoon word nie. Spesiale vertikale vlae word hiervoor gebruik, waar die inskripsie en die embleem gedraai is om reg te vertoon. Dit kom egter selde voor aangesien die meeste Arabiese lande nie hul vlae vertikaal hys nie.[9]
Ander vlae
Die burgerlike vaandel wat vir handelskepe op see gebruik word, is ’n groen vlag met die staatsvlag in die skildhoek (met ’n wit fraiing. Die koninklike standaard is die staatsvlag met die palmboom en swaarde in die skildhoek.
Koninklike Standaard
Burgerlike vaandel
Oorlogsvlag van Saoedi-Arabië
Vlag van die Koninklike Saoedi vloot
Vlootgeus
Vlootvaandel van Saoedi-Arabië
Vlag van die Koninklike Saoedi Lugverdedigingsmag
Verwysings
↑"Saoedi-Arabië" (in Engels). Flags of the World. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Mei 2020. Besoek op 28 Mei 2019.