Bhoetan (Dzongkha: འབྲུག་ཡུལ་, Druk Yul), amptelik die Koninkryk Bhoetan (འབྲུག་རྒྱལ་ཁབ་, Druk Gyal Khap), is 'n landingeslote land in Suid-Asië. Dit is landgebonde tussen die Volksrepubliek China in die noorde en Indië in die suide, met die Himalaja in die weste en word deur die Indiese deelstaat Sikkim van Nepal geskei. Die land is 'n demokratiese grondwetlike monargie, nadat die vorige koning, Jigme Singye Wangchuck, in 2005 bekend gemaak het dat die land van 'n absolute monargie gaan oorskakel. Die eerste verkiesing is in 2008 gehou.[9] Bhoetan beslaan 'n oppervlakte van 38 394 km² en het 'n bevolking van 727 145 in 2022 gehad.
Bhoetan is na 'n burgeroorlog in die 19de eeu onder die Wangchuck-dinastie verenig en het politieke bande met die Britse Ryk gevestig. Bhoetan is nooit deur Brits-Indië beheer nie en het as 'n bufferstaat tussen die Britse besetting in die suide en die Chinese Keiserryk in die noorde gedien, saam met die onafhanklike Himalaja-koninkryke Sikkim en Nepal verder wes. Die land se hoofstad en grootste stad is Thimphu. In 1988 is Dzongkha as amptelike landstaal verklaar. Die grootste persentasie van die bevolking is Boeddhiste met ongeveer 25% Hindoes.
Bhoetan beskik oor vrugbare valleie en grasvlaktes. Die klimaat in die suide is tropies terwyl die noorde bergagtig en koud is. Die meeste inwoners van die land boer met beeste of jakke (Engels: yaks). Die land is van landbou, bosbou, toerisme afhanklik en die verkoop hidroëlektriese krag aan Indië.
↑(en) "National Symbols". Bhutan Portal8. Regering van Bhoetan. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 November 2012. Besoek op 21 Julie 2008. National Game: The national sport of Bhutan is archery.
1. Land deels in Afrika. 2. Land deels in Europa. 3. Geografies in Asië, maar gereeld beskou as deel van Europa a.g.v. kulturele en historiese oorwegings.