Patricia de Lille (* 17 Februarie 1951 in Beaufort-Wes) was die leier van die Onafhanklike Demokrate (OD), 'n Suid-Afrikaanse politieke party wat deur haar in 2003 gestig is. Sy was ook voorheen 'n lid van die Pan Africanist Congress (PAC). In 2011 word sy burgemeester van Kaapstad nadat sy by die Demokratiese Alliansie (DA) aangesluit het. Sy is op 8 Mei 2018 deur die DA herroep, maar die Wes-Kaapse Appèlhof het haar op 15 Mei 2018 opnuut aangestel.[1] Sy het egter haar bedanking en uittrede uit die Demokratiese Alliansie vir 31 Oktober 2018 aangekondig.[2] en is op 1 November 2018 deur Dan Plato opgevolg. Op 2 Desember 2018 het De Lille die vorming van die "GOOD" politieke party in Houghton Estate, 'n voorstad van Johannesburg, aangekondig.[3]. Op 29 Mei 2019 het pres. Cyril Ramaphosa haar by sy kabinet ingesluit as minister van openbare werke en infrastruktuur. Tydens 'n kabinetskommeling in Maart 2023 is sy deur president Cyril Ramaphosa as Minister van Toerisme aangestel.[4]
De Lille het vroeër jare in Kaapstad as 'n laboratorium-assistent gewerk, waar sy betrokke geraak het by die Suid-Afrikaanse Chemiese Werkersunie. In 1983 is sy tot lid van die nasionale uitvoerende komitee verkies. In 1988 is sy verkies tot nasionale ondervoorsitter van die National Council of Trade Unions (Nactu), wat die hoogste posisie was wat 'n vrou in die vakbondbeweging tot in daardie stadium beklee het.
In 1990 is sy tot die nasionale uitvoerende komitee van die PAC verkies en neem as sulks deel van die grondwetlike onderhandelings (KODESA) wat tot die eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 aanleiding gegee het. Van 1994 tot 1999 was sy voorsitter van die staande komitee op vervoer en ook hoofsweep van die PAC.
In die SABC3-program "Top 100 Great South Africans" is sy as nommer 22 aangewys.[5]
Lokasi Pengunjung: 3.147.85.221