Die Japannese tale of Japannees-Ryukyu is 'n taalfamilie wat uit 12 tale bestaan en deur sowat 130 miljoen mense op die Japanse Argipel gepraat word. Dié taalfamilie bestaan uit twee groepe, naamlik Japannees en die Ryukyu-tale.[1]
Die Ryukyu-tale word deur sommige taalkundiges as dialekte van Japannees beskou wat dus gesamentlik as een Japannese taal gegroepeer word. Ander taalkundiges sien egter groter verskille tussen die Ryukyu-tale en Japannees wat nie hierdie klassifikasie regverdig nie.[2] Hulle argumenteer dat Japannees en die Ryukyu-tale nie onderling verstaanbaar is nie. Net die genetiese verwantskap tussen albei takke is 'n algemene konsensus. Die Japannese tale is nie verwant aan Japan se ander inheemse taal, Ainoe, nie; laasgenoemde word dus as 'n geïsoleerde taal beskou. Soms word dit saam met Turkse, Mongoolse en Toengoesiese tale, Koreaans asook Ainoe by die Altaïese tale gegroepeer, hoewel dit algemeen betwis word.[3]
Verwysings
↑(en) Hammarström, Harald; Forkel, Robert; Haspelmath, Martin (2017). "Japonic". Glottolog 3.0. Jena, Duitsland: Max Planck Institute for the Science of Human History. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Desember 2019. Besoek op 25 November 2018.{{cite web}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)