Hulle word soms "Pontiese tale" genoem in teenstelling met die naam "Kaspies" vir die Noordoos-Kaukasiese tale. Saam met die Noordoos-Kaukasiese tale en die Suid-Kaukasiese tale (Kartweliese tale) maak die familie deel uit van ’n groep van drie taalfamilies wat in die Kaukasus-taalgebied gepraat word; al drie taalfamilies toon egter geen onderlinge genetiese verwantskap nie. Hulle word veral uit geografiese redes onder die sambreelterm Kaukasiese tale saamgevat. Die Georgiese taalkundige Arnold Chikobawa het wel 'n Ibero-Kaukasiese taalfamilie voorgestel, alhoewel dit algemeen verwerp is.