Die Drawidiese tale is 'n taalfamilie wat veral in Suid-Indië en Noord-Sri Lanka asook in 'n kleiner mate in dele van Sentraal- en Oos-Indië, Pakistan, Nepal en Bangladesj gebesig word. Dit omvat 27 tale wat deur sowat 220 miljoen mense gepraat word. Die Indo-Ariese tale, wat veral in Noord-Indië gepraat word, is nie met die Drawidiese tale verwant nie, maar deur duisende jare se taalkontak het hulle talle gemeenskaplike kenmerke ontwikkel. Dit vorm 'n eie taalfamilie. In ruil daarvoor het die meeste van die huidige Drawidiese tale veral uit Sanskrit, Hindoeïsme se klassieke taal, baie woorde ontleen.
Die vier grootste tale (volgens moedertaalsprekers) is: Telugu (74 miljoen), Tamil (69 miljoen), Kannada (38 miljoen) en Malayalam (34 miljoen). Daarbenewens word Brahui oorwegend in Pakistan en Kurukh in Nepal gepraat. Sommige tale soos Malayalam en Tamil het gedurende die onlangse twee eeue deur migrasie ook in lande soos Singapoer (albei tale), Mauritius en Maleisië (beide Tamil) gevestig. Daar bestaan ook 'n Tamil-bevolking in die Suid-Afrikaanse provinsie KwaZulu-Natal.