Met 220 belydende en 42 dooplidmate was Kroonstad einde 2014 die tweede grootste Afrikaanse gemeente in die Klassis Noord-Vrystaat, naas die Gereformeerde kerk Parys, wat toe 270 belydende en 36 dooplidmate gehad het. In 1997 was Kroonstad se lidmaattal onderskeidelik 396 en 136 en in 2001 377 en 113.
Stigting
Die Gereformeerde kerk Kroonstad is op 6 Junie1925 met 69 belydende en 41 dooplidmate gestig as die vyfde Gereformeerde gemeente in die Noord-Vrystaat. In Maart 1929 besluit die kerkraad om ’n saal met sitplek vir 250 kerkgangers te bou. Ds. Jaco van Rooy het die hoeksteen met die wapenspreuk van die GKSA gelê: "Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie," na aanleiding van Matteus 16:18. Die bouer was ’n lidmaat, F.J. Venter. Dié gebou is in 1946 verkoop, maar die hoeksteen het ’n plek in die voorportaal van die nuwe kerk gekry.
Kerkbou
Destyds het die gemeente sterk gegroei. Dr. J.M. de Wet het die hoeksteen van die huidige kerkgebou op 6 Maart1948 gelê. Die inskripsie daarop lui: "Ebenhaeser – tot hiertoe het die Here ons gehelp," na aanleiding van 1 Samuel 7:11. Die argitekte Gerard Moerdyk en Henry Watson, wat saam ook onder meer vir die Voortrekkermonument en die Gereformeerde kerk Kaapstad verantwoordelik was, is gevra om die plan te teken van ’n gebou met sitplek vir tussen 400 en 500 kerkgangers. In Mei 1947 het die kerkraad die laagste tender, dié van £16 500 van die firma Duursema & Duursema van Kroonstad, toegeken.
Soos in talle van sy kerkontwerpe, het Moerdyk ook hier ruimskoots van simboliek gebruik gemaak. Die grondplan is byvoorbeeld in ’n kruisvorm; daarom omarm die galery die preekstoel. Houtstawe agter die kansel suggereer drie kruise. Vandaar af strek ’n tong na bo na aanleiding van Rom. 10:14 en bo-oor die tong is ’n son met strale, soos versinnebeeld in Psalm 119:130. Die oorspronklike interieur het nie kerkbanke gehad nie, maar opslaanstoele soos in ’n destydse bioskoop of operahuis, die sogenaamde opera seats.
Die gemeente het sy orrel in 1948 uit die VSA laat kom. Die orrelfront se pype vorm vyf groepe wat gesamentlik en afsonderlik ’n stygende lyn weergee. Dit simboliseer die verheffende aard van die musiek en psalmsang.
Die saal is eers heelwat later gebou volgens die plan van P.H. Geyer, ’n plaaslike lidmaat. Ds. P.C. Rule het die hoeksteen op 19 Augustus1978 gelê.
Rule, Petrus Cornelius, 1957 – 1986 (aanvaar sy emeritaat)
Van Schalkwyk, Pieter, 1981 – 1986
Klopper, Andries Hendrik, 1987 – 2007 (aanvaar sy emeritaat)
Stavast, Arie Harm, 2008 – 31 Augustus2021 (aanvaar sy emeritaat)
Bronne
(af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.