Die Gereformeerde kerk Pretoria-Wes is die oudste gemeente in die Gereformeerde Kerk se Klassis Pretoria-Suidwes en die sewende wat in Pretoria gestig is. Vandat Pretoria-Oos, die tweede oudste gemeente, ontbind het, is Pretoria-Wes die sesde oudste bestaande gemeente.
Nog voor afstigting is gekyk na erwe in Erasmia, Danville en Wespark. Eindelik is twee erwe aangekoop teen die heuwel wat bekendstaan as Proklamasieheuwel omdat dit naby hier was dat die kamp van genl. lord Roberts tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog gestaan het en op die heuwel die proklamasie van die Engelse besetting van Pretoria uitgevaardig is.
Eers is eredienste in die Burgerright-skoolsaal met sy krakende houtvloer gehou. Op 23 November1945 het die ses maande oue gemeente besluit om ’n kerk op te rig. ’n Lidmaat, M. van Essen, het die plan geteken. Geld was min in die naoorlogse tyd en eers in Mei 1947 is die besluit finaal geneem om te begin bou aan die kerk met sitplek vir 450 mense. Agttien maande later het lidmate kans gekry om te stem oor kerkbou: 85 was ten gunste, 103 daarteen; 107 het gesê wag met die bouery en 45 het gesê begin dadelik bou.
Ten spyte van dié uitslag het die kerkraad besluit om op 2 Januarie1950 te begin bou. Spesiale kollektante is aangewys, maar van die geldinsameling het niks tereggekom nie. In Mei 1950 het die kerkraad toe besluit om ’n saal pleks van ’n kerk te bou. Bosman en Neethling het die plan geteken en die firma Truter se tender van £6 288 vir die bouwerk is aanvaar. Die toring sou £22 ekstra kos.
Ds. P.C. Rule en die gesin Hornsveld het die klok geskenk en J.H. van Tonder die hoeksteen, wat ds. Rule op 27 Januarie1951 gelê het. Ses maande later is die kerksaal amptelik ingewy. Tien jaar later het die kerkraad besluit om dié saal te vergroot, ’n projek waarmee daar in 1966 begin is. Die argitek vir die verandering aan die saal was Otto Verhoef en die bouaannemer Jan Sigle. J.H. van Tonder, wat destyds die hoeksteen geskenk het, het die nuwe fasade van rivierklip onderneem. Die gemeente het die ou kansel en kerkklok aan die sendinggemeente De Hoop geskenk. ’n Klokkespel is vervolgens aangekoop en op 12 November1966 kon die gemeente sy nuwe kerk in gebruik neem.
Van den Berg, Paul Jacobus, 1990 – 2006 (polisiekapelaan)
Eloff, Johannes Marthinus, 1997 – 2000
Schutte, Hendrik Willem, 2001 – 2007
Van den Berg, Petrus Johannes, 2007 – 2010
Pienaar, Nikolaas, 2012 – 2017 (beroep aangeneem na Oos-Londen)
Bronne
(af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.