Edenvale is in Mei 1953 uit wyke van die moedergemeente Primrose (1946) afgestig as die twaalfde Gereformeerde kerk aan die Oos-Rand. Dienste is reeds in 1949 in die omgewing gehou en twee eenderse sale is in sowel Edenvale as Primrose gebou. Albei sale is op 9 Augustus1952 ingewy, nege maande voor die gemeente se stigting. Gou was dit te klein om al die kerkgangers soggens te huisves; daarom moes die kerk ’n skoolsaal gebruik vir die oggenderediens. Begin 1976 is ’n moderne kerkgebou in gebruik geneem. Dié gebou het geen vensters nie om die geraas van die nabygeleë snelweë uit te skakel. Lugreëling sorg vir vars lug in die gebou.
In die eeufeesjaar van die Gereformeerde Kerk het Edenvale 165 belydende lidmate gehad en Primrose 518. Einde 2001 was dit onderskeidelik 197 en 210, maar einde 2014 het Edenvale teruggesak tot 161 belydende lidmate en Primrose tot net 59. Einde 2017 was dit onderskeidelik 154 en 38.
Predikante
Opperman, Johannes Marthinus, 1956–1959
Coetzee, Johannes Hendrik, 1960–1965
Du Plessis, dr. Jansen van Vuuren, 1965–1970
Van den Berg, Adriaan Stephanus, 1970–1976 (verlaat die bediening)
Kuperus, Willem Leendert, 1976–1997 (aanvaar sy emeritaat)
Engelbrecht, Willem Gerhardus, 1997–1999 (verlaat die bediening; sy enigste gemeente)
Pieterse, Wilhelmus Johannes, 1999–2002
Lartz, dr. Deon, 2002 – hede
Bronne
(af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.