Die hedendaagse Arabiese wêreld het ’n gesamentlike bevolking van sowat 422 miljoen, van wie meer as die helfte jonger as 25 jaar is.[8]
In die voormoderne era was die Arabiese wêreld sinoniem met die historiese Arabiese emirate en kalifate. Arabiese nasionalisme het in die tweede helfte van die 19de eeu ’n aanvang geneem saam met ander nasionalistiese bewegings in die Ottomaanse Ryk.
Die Arabiese Liga is in 1945 gestig om die belange van die Arabiese volke te verteenwoordig en veral om die politieke vereniging van die Arabiese state na te streef; ’n projek bekend as Pan-Arabisme.[9][10]
Definisie
Die linguistiese en politiese omvangsbepaling van die term "Arabies" is gewoonlik belangriker as die genealogiese oorwegings. In Arabiese lande is Moderne Standaardarabies die enigste taal wat deur die regering gebruik word. Die taal van ’n individuele nasie word Darija genoem; dit beteken "alledaagse of omgangstaal".[11] Die grootste deel van Darija se woordeskat stem ooreen met dié van Standaardarabies, maar dit leen baie woorde uit die Berbertale,[12] asook uit Frans, die taal van die historiese koloniale besetter van die Magreb. Darija word gepraat en in ’n mate verstaan in die Magreblande, veral Marokko, Algerië en Tunisië, maar sprekers van ander Arabiese dialekte verstaan dit nie, veral dié in Egipte en die Midde-Ooste.[13]
Standaardgebiedsdefinisie
Hoewel geen wêreldwye definisie van die Arabiese wêreld bestaan nie,[7] word alle lande wat lid van die Arabiese Liga is gewoonlik gereken as deel daarvan.[7][14]
Die Arabiese Liga is ’n streekorganisasie wat onder meer ten doel het om op ’n algemene manier na die sake en belange van die Arabiese state om te sien, en gebruik die volgende definisie van ’n Arabier: "’n Arabier is ’n persoon wie se taal Arabies is, wat in ’n Arabiese land woon en wat simpatiseer met die aspirasies van die Arabiese volk."[15]
Hierdie standaarddefinisie word soms as onvanpas[16] of problematies beskou,[17] en word soms aangevul met sekere bykomende elemente (sien bykomende taaldefinisie hieronder).[18]
Tale in die Arabiese Liga
Algerië (Arabies: الجزائر al-Jazā’ir) (Berbers is die ander amptelike taal, Frans word in opvoeding, die daaglikse lewe en die sakewêreld gebruik)
Die Arabiese Demokratiese Republiek Sahara (Arabies: الجمهورية العربية الصحراوية الديمقراطية Al-Jumhūrīyya Al-`Arabīyya Aṣ-Ṣaḥrāwīyya Ad-Dīmuqrāṭīyya) (Spaans is die ander amptelike taal) is nie 'n lidland van die Arabiese Liga nie aangesien die Wes-Sahara deur Marokko opgeëis en gedeeltelik beset word. Dit is egter wél 'n lidland van die Afrika-unie.
Bykomende taaldefinisie
As ’n alternatief of bykomend tot die standaardgebiedsdefinisie kan die Arabiese wêreld gedefinieer word as bestaande uit volke en state wat minstens in ’n mate verenig is deur die Arabiese taal, kultuur of geografiese naburigheid,[19] of dié state of streke waar die meerderheid van die bevolking Arabies praat; dit kan dan ook bevolkings van die Arabiese diaspora (wat in nie-Arabiese lande woon) insluit.[7]
Hoewel Arabiese dialekte in ’n paar lidlande van die Arabiese Liga gepraat word, is Moderne Standaardarabies in almal ’n amptelike taal. Sommige state het verklaar Arabies is ’n amptelike of nasionale taal, hoewel dit nie algemeen gepraat word nie. As lede van die Arabiese Liga word hulle egter gereken as deel van die Arabiese wêreld volgens die standaardgebiedsdefinisie.
Somalië het twee amptelike tale, Arabies en Somalies, wat albei tot die groter Afro-Asiatiese taalfamilie behoort. Hoewel Arabies algemeen gepraat word in die noordelike streke en in stadsgebiede in die suide, word Somalies die meeste gepraat en dit bevat baie Arabiese leenwoorde.[20]
Net so het Djiboeti twee amptelike tale, Arabies en Frans. Dit het ook verskeie formeel erkende nasionale tale; benewens Somalies praat baie mense Afar, wat ook ’n Afro-Asiatiese taal is. Die meeste mense praat Somalies en Afar, hoewel Arabies ook algemeen gebruik word in handel en ander bedrywighede.[21]
Comore het drie amptelike tale: Arabies, Comoraans en Frans. Comoraans word die meeste gepraat, terwyl Arabies met godsdiens en Frans met die opvoedingstelsel verbind word.
Tsjad, Eritrea en Israel erken almal Arabies as ’n amptelike taal, maar nie een van hulle is ’n lidland van die Arabiese Liga nie. Tsjad en Eritrea is waarnemerstate van die liga en het baie burgers wat Arabies praat; hulle kan in die toekoms lid word. Israel is nie deel van die Arabiese wêreld nie. Volgens sommige definisies[18][22] kan Arabiese burgers van Israel egter as ’n samestellende deel van die Arabiese wêreld beskou word.
Iran het sowat 1,5 miljoen Arabiessprekendes.[23] Iranse Arabiere woon hoofsaaklik in Ahvaz, ’n suiwestelike streek van die provinsie Khuzestan; terwyl daar ook van hulle is in die provinsies Bushehr en Hormozgan en in die stad Qom. Mali en Senegal erken Hassaniya, die Arabiese dialek van die Moorse etniese minderheid, as ’n nasionale taal.[24]Griekeland en Siprus erken ook Sipriotiese Arabies onder die Europese Handves vir Streek- en Minderheidstale. Malta, wat nie deel van die Arabiese wêreld is nie, se amptelike taal is Maltees, wat grammaties verwant is aan Magreb-Arabies.
Die meeste mense in die Arabiese wêreld hang Islam aan en die godsdiens het in die meeste lande amptelike status. Sjariawette kom in sommige lande gedeeltelik in regstelsels voor, veral in die Arabiese Skiereiland, terwyl ander se wetgewing sekulêr is. Die inwoners van die meeste lande is Soenniete. In Irak en Bahrein is die meeste mense egter Sjiiete. Libanon, Jemen en Koeweit het groot Sjia-minderhede. In Saoedi-Arabië word Ismaelitiese groepe in die oostelike Al-Hasa-streek en die suidelike stad Najran aangetref. In Oman maak Ibadi-gelowiges sowat 75% van Moslems uit.
Kleiner etniesgodsdienstige minderhede in die Arabiese Liga sluit groepe van Irak, Sirië, Libanon, Jordanië en Irak in. Voorheen was daar ook aansienlike hoeveelhede Jode in die Arabiese wêreld, maar die Arabies-Israeliese konflik het gelei tot ’n massa-emigrasie tussen 1948 en 1972. Vandag is nog net klein Joodse gemeenskappe oor.
Volgens ’n groot opname deur die BBC onder 25 000 mense in die Midde-Ooste en Noord-Afrika sê al hoe meer Arabiere hulle is nie meer godsdienstig nie. Van die redes wissel van vroueregte en migrasie tot veiligheid en seksualiteit. Die opname is van 2018 tot 2019 in 10 lande gedoen.[26]
Opvoeding
Volgens Unesco is gemiddeld 76,9% van volwassenes (ouer as 15) in die streek geletterd. In Mauritanië en Jemen is die persentasie onder die gemiddelde – net oor 50%. In Sirië, Libanon, Palestina en Jordanië is dit egter tot sowat 90%. Die vlak van geletterdheid toon geleidelike verbetering, en die getal ongeletterdes het tussen 1990 en 2000-2004 van 64 miljoen tot sowat 58 miljoen afgeneem.
Die genderongelykheid in geletterdheid is hoog in die streek,[27] met vroue wat sowat tweederdes van ongeletterdes uitmaak; daar is net 69 geletterde vroue vir elke 100 geletterde mans. Die ongelykheid kom veral in Egipte, Marokko en Jemen voor.[28] Volgens ’n VN-opname lees die gemiddelde persoon in die Arabiese wêreld vier bladsye per jaar en word een nuwe titel per jaar vir elke 12 000 mense gepubliseer.[29] Volgens die Arab Thought Foundation streef net meer as 8% van mense in Arabiese lande na ’n opvoeding.[29]
Die VN het in 2002, 2003 en 2004 ’n Arabiese menslike ontwikkelingsverslag gepubliseer wat deur navorsers van die Arabiese wêreld geskryf is; daarin word ’n paar sensitiewe kwessies aangeroer in die ontwikkeling van Arabiese lande: onder meer vrouebemagtiging en die beskikbaarheid van opvoeding en inligting.
Gendergelykheid
Vroue in die Arabiese wêreld het steeds nie dieselfde geleenthede as mans nie, hoewel die ontkenning van hulle regte ’n belangrike stok in die wiel is in die Arabiese state se poging om weer belangrike globale leiers in handel, opvoeding en kultuur te word, volgens ’n VN-geborgde verslag in 2008.[30]
Grootste stede in die Arabiese wêreld
’n Tabel van die grootste stede in die Arabiese wêreld (volgens eintlike stede):[31]
Mesopotamië (die moderne Irak) is in 633 n.C. verower en die Levant (moderne Sirië, Israel, Palestina, Jordanië en Libanon) tussen 636 en 640 n.C. Egipte is in 639 verower en in die Middeleeue geleidelik verarabiseer.[34] ’n Onderskeibare Egiptiese Arabies het teen die 16de eeu ontstaan. Die Magreb is ook in die 7de eeu verower en geleidelik onder die Fatimidiese Kalifaat verarabiseer.[35]
Die Islam is van die 8ste tot 11de eeu uit Egipte na Soedan gebring.[36] Dié land se kultuur hang vandag af van die volk; sommige het ’n suiwer Nubiese, Beja- of Arabiese kultuur en sommige ’n mengsel van Nubiese en Arabiese elemente.[37]
Ottomaanse en koloniale heerskappy
Die Arabiese Abbasidiese Kalifaat is in die 13de eeu deur die Mongoolse Ryk verower. Egipte, die Levant en Hejaz is ook deur die Turkse Mameluksultanaat regeer. Teen 1570 het die Turkse Ottomaanse Ryk die grootste deel van die Arabiese wêreld beheer, buiten Marokko.
In die tweede helfte van die 19de eeu het Arabiese nasionalisme toegeneem saam met ander nasionalistiese bewegings in die tanende Ottomaanse Ryk.
Toe die Ottomaanse Ryk ná die Eerste Wêreldoorlog tot ’n einde kom, is ’n groot deel van die Arabiese wêreld deur Europese koloniale magte beheer, soos die Britse mandaat van Palestina, Brits-Irak, Brits-Egipte, Frans-Marokko, Italiaans-Libië, Frans-Tunisië, Frans-Algerië, Frans-Sirië en -Libanon, en die sogenaamde Verdragskus, ’n Britse protektoraat wat gevorm is deur die sjeikdomme aan die voormalige "Piratekus".
Hierdie Arabiese state het eers tydens of ná die Tweede Wêreldoorlog hulle onafhanklikheid gekry: Libanon in 1943, Sirië en Jordanië in 1946, Libië in 1951, Egipte in 1952, Marokko en Tunisië in 1956, Irak in 1958, Somalië in 1960, Algerië in 1962 en die Verenigde Arabiese Emirate in 1971.
In teenstelling daarmee het Saoedi-Arabië met die val van die Ottomaanse Ryk verbrokkel en is dit teen 1932 onder Abdoel Aziz al-Saoed verenig.
Jemen het ook in 1918 direk van die Ottomaanse Ryk afgestig. Oman was sedert die 8ste eeu selfregerend, buiten kort rukke onder Persiese en Portugese heerskappy.
Opkoms van Arabiese nasionalisme
Die Arabiese Liga is in 1945 gestig om die belange van die Arabiere te behartig en veral om die politieke vereniging van die Arabiese wêreld teweeg te bring, ’n projek bekend as Pan-Arabisme.[9][10] Daar was in die middel 20ste eeu kortstondige pogings tot sulke verenigings, veral die Verenigde Arabiese Republiek van 1958 tot 1961.
Die Arabiese Liga se hoofdoel is om die Arabiese bevolkings polities te verenig. Die liga se permanente hoofkwartier is in Kaïro. Dit is in die 1980's tydelik na Tunis geskuif nadat Egipte uitgeskop is omdat hy die Camp David-ooreenkoms van 1978 onderteken het.
Pan-Arabisme is sedert die 1980's as ’n ideologie verwerp en is aan die een kant vervang met Pan-Islamisme en aan die ander kant met individuele nasionalismes.
Moderne konflikte
Vereniging van Saoedi-Arabië
Die vereniging van Saoedi-Arabië was ’n 30 jaar lange militêre en politieke veldtog waarin verskeie stamme, sjeikdomme en emirate van die grootste deel van die Arabiese Skiereiland tussen 1902 en 1932 deur die Huis van Saoed, of Al Saoed, verower is en waarna die hedendaagse Saoedi-Arabië gestig is. Die proses het plaasgevind onder die charismatiese Abdoel Aziz al-Saoed[38] en is soms die "Derde Saoedi-staat" genoem om dit te onderskei van die eerste en tweede staat wat onder die Saoed-clan bestaan het.[39]
Die Saoeds was sedert 1893 in bannelingskap in die Ottomaanse Irak ná die verbrokkeling van die Tweede Saoedi-staat en die opkoms van Jebel Sjammar van die Rasjid-dinastie. In 1902 het Ibn Saoed die Saoed-dinastie se voormalige hoofstad, Riaad, herower. Tussen 1913 en 1926 het hy die res van die streke Nedzjed, el-Hasa, die Rasjid-emiraat, Asier en Hedzjaz (waar die heilige Moslemstede Mekka en Medina geleë is) onderwerp. Van 1927 was dit bekend as die "Koninkryk Nedzjed en Hedzjaz",[40] totdat dit in 1932 verder verenig is in die Koninkryk Saoedi-Arabië.
Arabies-Israeliese konflik
Die stigting van die staat Israel in 1948[41] het gelei tot die Arabies-Israeliese konflik, een van die groot onopgeloste geopolitieke konflikte.
Die Iran-Irakse Oorlog (ook bekend as die "Eerste Golfoorlog" en onder verskeie ander name) was ’n gewapende konflik tussen die weermagte van Irak en Iran. Dit het geduur van September 1980 tot Augustus 1988[42] en was die tweede langste konvensionele oorlog van die 20ste eeu.
Die oorlog het begin toe Irak Iran op 22 September 1980 binneval met ’n gelyktydige lug- en grondoperasie ná ’n lang geskiedenis van grensdispute en vrese van ’n Sjiitiese insurgensie onder Irak se lank onderdrukte Sjiameerderheid onder invloed van die Iranse Rewolusie. Irak wou ook Iran vervang as die oorheersende staat van die Persiese Golf. Hoewel Irak gehoop het om die chaos in Iran ná die rewolusie te misbruik en die land sonder ’n formele waarskuwing aangeval het,[43] het hulle beperkte vordering in Iran gemaak en is hulle gou deur die Iranners teruggedryf.[44] Iran het teen Junie 1982 feitlik al die verlore gebiede terugverower.
Libanese Burgeroorlog
Die Libanese Burgeroorlog was ’n burgeroorlog met vele fasette in Libanon wat geduur het van 1975 tot 1990. Dit het tot ’n geraamde 120 000 sterftes gelei.[45] Nog ’n miljoen mense (’n kwart van die bevolking) is gewond en vandag is sowat 76 000 mense in die land steeds ontheem.[46] Amper ’n miljoen mense het ook die land verlaat.[47]
Wes-Saharakonflik
Die Wes-Saharakonflik was veral ’n gewapende stryd tussen die Sahrawi-Polisariofront en Marokko tussen 1975 en 1991. Die konflik het ontstaan ná die onttrekking van Spanje aan Spaans-Sahara ingevolge die Madridverdrag, waarkragtens dit administratiewe beheer oor die gebied moes oordra aan Marokko en Mauritanië, maar nie die soewereiniteit nie.
In 1975 het die Marokkaanse regering die Groen Mars van sowat 350 000 Marokkaanse burgers georganiseer. Hulle is vergesel deur sowat 20 000 soldate en het Wes-Sahara binnegedring en ’n Marokkaanse teenwoordigheid probeer vestig.
Hoewel hulle aanvanklik min teenstand van die Polisario gekry het, het Marokko later betrokke geraak by ’n lang tydperk van guerrilla-oorlogvoering met die Sahrawi-nasionaliste. In die laat 1970's het die Polisario suksesvol teen beide Marokko en Mauritanië geveg in ’n poging om ’n onafhanklike staat in die gebied te vestig.
In 1979 het Mauritanië aan die konflik onttrek nadat hy ’n vredesooreenkoms met die Polisario onderteken het.
Die oorlog het met ’n lae intensiteit deur die 1980's voortgeduur, hoewel Marokko in 1989-1991 verskeie pogings aangewend het om die oorhand te kry. ’n Skietstilstand is eindelik in September 1991 tussen die Polisario en Marokko bereik.
Noord-Jemense Burgeroorlog
Die Noord-Jemense Burgeroorlog het tussen 1962 en 1970 in Noord-Jemen plaasgevind tussen koningsgesindes van die Mutawakkilite-koninkryk van Jemen[48] en faksies van die Jemen-Arabiese Republiek.[49] Die oorlog het begin met ’n staatsgreep deur die republikeinse leier, Abdullah as-Sallal,[50] wat die pas gekroonde imam Mohammed al-Badr omvergewerp en die Republiek Jemen uitgeroep het met hom as president.[51]
Somaliese Burgeroorlog
Die Somaliese Burgeroorlog is ’n voortdurende burgeroorlog in dié land. Dit het in 1991 begin toe ’n koalisie van clangebaseerde gewapende opposisiegroepe die land se militêre regering omvergewerp het.[52]
Verskeie faksies het om invloed begin meeding in die magsvakuum wat ontstaan het[53] en dit het ’n mislukte VN-vredespoging in die middel 1990's ontketen.[54] ’n Tydperk van desentralisasie het ontstaan, wat gekenmerk is deur ’n terugkeer na godsdiens- en gewoontereg in baie gebiede asook die stigting van outonome streekregerings in die noordelike deel van die land.[54] Vroeg in die 2000's het tussentydse federale administrasies ontstaan en dit het gelei tot die stigting van die Federale Oorgangsregering (FOR) in 2004. In 2006 het die FOR met die hulp van Ethiopiese soldate beheer oorgeneem oor die meeste suidelike konfliksones van die nuut gestigte Unie van Islamitiese Regbanke (UIR). Die UIR het daarna verbokkel in radikaler groepe, onder meer die Al-Sjabaab, wat sedertdien teen die Somaliese regering veg vir beheer oor die streek.[55]
In 2011 het ’n gekoördineerde militêre operasie tussen die Somaliese weermag en multinasionale magte begin wat vermoedelik een van die finale fases van die oorlog se Islamitiese insurgensie is.[56]
Die Arabiese wêreld was voorheen van beperkte belang vir die Europese koloniale magte, met die Britse Ryk wat hoofsaaklik in die Suezkanaal belanggestel het as ’n roete na Brits-Indië. Die ekonomiese en geopolitiese situasie het drasties verander ná die ontdekking van groot petroleumneerslae in die 1930's, en dit het gepaardgegaan met ’n groot toename in die vraag na petroleum in die Weste as gevolg van die Tweede Nywerheidsomwenteling.
Die Persiese Golf het veral baie van hierdie grondstof: Vyf Persiese Golf-state – Saoedi-Arabië, Irak, die VAE, Koeweit en Katar – is van die 10 grootste uitvoerders van petroleum of gas in die wêreld. In Afrika is Algerië (10de wêreldwyd) en Libië belangrike gasuitvoerders. Bahrein, Egipte, Tunisië en Soedan het almal kleiner maar aansienlike reserwes. Dit het ’n groot uitwerking op streekspolitiek gehad en verskeie rentenierstate tot gevolg gehad. Dit het weer gelei tot groot ekonomiese ongelykhede tussen olieryk en oliearm lande en, veral in die yler bevolkte state van die Persiese Golf en Libië, uitgebreide trekarbeid. Die Arabiese wêreld het vermoedelik 46% van die wêreld se oliereserwes en ’n kwart van die natuurlikegasreserwes.[59]
Onlangse geskiedenis
Arabiese state word vandag gekenmerk deur hulle outokratiese heersers en gebrek aan demokratiese beheer. Die 2016-Demokrasie-indeks klassifiseer Libanon, Irak en Palestina as "basterregimes", Tunisië as ’n "gebrekkige demokrasie" en alle ander Arabiese state as "outoritêre regimes". Die Freedom House-verslag van 2011 klassifiseer Comore en Mauritanië as "elektorale demokrasieë",[60] Libanon, Koeweit en Marokko as "gedeeltelik vry" en alle ander Arabiese state as "nie vry nie".
Die inval deur Irak in Koeweit het gelei tot die Golfoorlog van 1990-'91. Egipte, Sirië en Saoedi-Arabië het ’n multinasionale koalisie gevorm wat Irak teengestaan het. Die toon van steun vir Irak deur Jordanië en Palestina het gelei tot gespanne betrekkinge tussen baie van die Arabiese state. Ná die oorlog het die sogenaamde Damaskusverklaring ’n alliansie geformaliseer vir toekomstige gesamentlike Arabiese verdedigingsoptrede tussen Egipte, Sirië en die lande van die Samewerkingsraad van die Arabiese Golfstate.[61]
’n Reeks gebeure wat gelei het tot die destabilisering van die outoritêre regerings wat in die 1950's in die Arabiese wêreld ontstaan het, het vroeg in die 21ste eeu ’n hoogtepunt bereik. Die inval in Irak in 2003 het gelei tot die val van die Baathistiese regering en eindelik die teregstelling van Saddam Hoesein.
’n Groeiende klas jong, opgevoede, sekulêre burgers met toegang tot moderne media soos Al Jazeera (sedert 1996) en wat op die internet kommunikeer, het ’n derde mag begin vorm naas die klassieke digotomie van Pan-Arabisme versus Pan-Islamisme wat die tweede helfte van die 20ste eeu oorheers het.
In Sirië het die Damaskuslente van 2000 tot 2001 die moontlikheid ingehou van demokratiese veranderings, maar die Baathistiese regering het die beweging onderdruk.
In 2003 is die Egiptiese Beweging vir Verandering, algemeen bekend as Kefaya, gestig om die Mubarak-regering teen te staan en om demokratiese hervormings en groter burgervryhede in Egipte daar te stel.
Geografie
Die Arabiese wêreld strek oor meer as 13 miljoen km2 van Noord- en Noordoos-Afrika en Suidwes-Asië.[1] Die Asiatiese deel vorm saam met Egipte en Soedan die Masjrek.[62] Laasgenoemde twee lande word ook soms die Nylvallei genoem. Algerië, Marokko, Tunisië, Libië en dikwels Mauritanië is bekend as die Magreb.[63]
Die Masjrek (bo) is die oostelike deel van die Arabiese wêreld en die Magreb (onder) die westelike deel.
Die term "Arabies" word dikwels met die Midde-Ooste verbind, maar die grootste en digs bevolkte deel van die Arabiese wêreld lê in Noord-Afrika. Dit sluit twee van die grootse lande in Afrika, Algerië (2,4 miljoen km2) in die middel van die streek en Soedan (1,9 miljoen km2) in die suidooste, in. Die grootste land in die Arabiese Midde-Ooste is Saoedi-Arabië (2 miljoen km2).
Die kleinste Arabiese outonome vastelandstaat in Afrika en die Midde-Ooste is Libanon (10 452 km2), terwyl die kleinste eilandstaat Bahrein (665 km2) is. Al die Arabiese state grens aan ’n oseaan of see, hoewel net ’n baie klein deel van Irak aan die Persiese Golf grens.
Die grootste deel van die Arabiese wêreld val in die droogste streek op aarde. Byna 80% (10 666 637 km2) is met woestyn bedek, van Mauritanië en Marokko tot Oman en die VAE. Die tweede mees algemene terrein is halfdroë terrein, wat in al die lande buiten Libanon en Comore aangetref word.
Historiese grense
Die politieke grense van die Arabiese wêreld het oor die eeue verskuif, met die gevolg dat daar Arabiese minderhede in nie-Arabiese lande van die Sahel en die Horing van Afrika is, sowel as in die Midde-Oosterse lande Siprus, Turkye en Iran. Daar is ook nie-Arabiese inwoners in Arabiese lande. Tog vorm die geografie van see, woestyn en berg die blywende natuurlike grense van die streek.
Die Arabiese wêreld strek oor twee kontinente, Afrika en Asië. Dit lê hoofsaaklik op ’n oos-wes-as.
Arabiese Afrika
Arabiese Afrika omvat die hele noordelike derde van die vasteland. Dit word aan drie kante (wes, noord en oos) deur water omring en in die suide deur woestyn of woestynstruikveld.
In die weste grens dit aan die Atlantiese Oseaan. Van noordoos tot suidwes vorm Marokko, Wes-Sahara (grootliks eensydig deur Marokko geannekseer) en Mauritanië die Arabiese Atlantiese kuslyn van rofweg 2 000 km.
Die streek se grens in die noorde is ook ’n kontinentale grens: die Middellandse See. Dié grens begin in die weste met die smal Straat van Gibraltar, die 13 km breë kanaal wat die Middellandse See met die Atlantiese Oseaan in die weste verbind en Marokko van Spanje in die noorde skei. Oos van Marokko met die kus langs is Algerië, Tunisië en Libië, gevolg deur Egipte, wat die streek (en vasteland) se noordoostelike hoek uitmaak. Die kuslyn loop vir ’n entjie skerp suid by Tunisië, daarna meer geleidelik suidooswaarts deur die Libiese hoofstad, Tripoli, en dan weer skerp noord deur Libië se tweede grootste stad, Benghazi. Daarna loop dit weer reguit oos deur Egipte se tweede grootste stad, Alexandrië, by die mond van die Nyl. Tunisië vorm saam met Italië noord van hom die oorgang van die westelike na die oostelike deel van die Middellandse See, asook ’n kulturele oorgang: wes van Egipte begin die Arabiese streek bekend as die Magreb.
Histories het die 4 000 km lange Mediterreense grens gewissel. Daar was Arabiese kontak met en verkenning van die bevolkingsentrums noord daarvan in Europa – meestal vriendelik, maar soms nie. Eilande en skiereilande naby die Arabiese kus is verower. Die eilande Sisilië en Malta lê net 100 km oos van die Tunisiese stad Kartago, wat ’n kontakpunt met Europa was sedert sy stigting in die eerste millennium v.C.; beide Sisilië en Malta was by tye deel van die Arabiese wêreld. Net oorkant die Straat van Gibraltar van Marokko af lê die Iberiese Skiereiland, waarvan dele deur die Middeleeue deel van die Arabiese wêreld was, en dit het ’n aansienlike invloed op die groter Europese en Westerse kultuur gehad.
Die noordelike grens van Arabiese Afrika het ook vir kort tye in die teenoorgestelde rigting verskuif – eers as gevolg van die Kruistogte en later die imperiale betrokkenheid van Frankryk, Brittanje, Spanje en Italië. Nog ’n besoeker uit die noorde was Turkye, wat die oostelike deel van die streek eeue lank beheer het, hoewel nie as ’n koloniseerder nie. Twee klein enklawes aan die andersins Marokkaanse kus, Ceuta en Melilla, word steeds deur Spanje geadministreer.
In die ooste vorm die Rooisee die grens tussen Afrika en Asië en dus ook tussen Arabiese Afrika en die Arabiese Midde-Ooste. Die Rooisee is lank en smal en loop 2 300 km van Egipte se Sinaiskiereiland suidooswaarts na die Bab-el-Mandeb-straat tussen Djiboeti in Afrika en Jemen in Asië. Hoewel die hele see vaarbaar is, was die meeste kontak tussen Arabiese Afrika en die Arabiese Midde-Ooste óf oorland oor die Sinai óf oor die Middellandse See.
Van noordwes na suidoos vorm Egipte, Soedan en Eritrea die Afrikakuslyn, terwyl Djiboeti die Afrikakus van Bab-el-Mendeb vorm.
Suidoos van Djiboeti aan die kuslyn is Somalië, maar die Somaliese kuslyn draai 90 grade skerp noordoos en volg die Jemense kuslyn. Daarna draai dit weer skerp suidwes om die Horing van Afrika te voltooi.
Die suidelike grens van Arabiese Afrika is die strook struikveld bekend as die Sahel, wat suid van die Sahara oor die vasteland loop.
Arabiese Midde-Ooste
Die Wes-Asiatiese deel van die Arabiese wêreld omvat die Arabiese Skiereiland, die grootste deel van die Levant (uitsluitend Siprus en Israel), die grootste deel van Mesopotamië (buiten dele van Turkye en Iran) en die Persiese Golf-streek.
Die skiereiland is rofweg ’n skuins reghoek wat in dieselfde rigting as die kuslyn van Noordoos-Afrika loop, met sy lang as wat na Turkye en Europa wys.
↑Wehr, Hans: Dictionary of Modern Written Arabic (2011); Harrell, Richard S.: Dictionary of Moroccan Arabic (1966)
↑Tilmatine Mohand, Substrat et convergences: Le berbére et l'arabe nord-africain (1999), in Estudios de dialectologia norteaafricana y andalusi 4, pp 99–119
↑"History of Dubai". dubai.ae. Government of Dubai. Besoek op 5 Augustus 2019.
↑Goddard, Hugh Goddard, "Christians and Muslims: from double standards to mutual understanding", Routledge (UK), 26 Oktober 1995 (ISBN 0-7007-0364-0)
↑"Omar (634-644)", The Islamic World to 1600 Multimedia History Tutorials by the Applied History Group, University of Calgary. Besoek op 20 Oktober 2006
↑Bechtold, Peter R (1991). "More Turbulence in Sudan" in Sudan: State and Society in Crisis. red. John Voll (Westview Press (Boulder)) p. 1.
↑Almana, Mohammed (1982). Arabia Unified: A Portrait of Ibn Saud. Londen: Hutchinson Benham. ISBN0-09-147290-3. {{cite book}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
↑Troeller, Gary (1976). The Birth of Saudi Arabia: Britain and the Rise of the House of Sa'ud. Londen: Routledge. ISBN0-7146-3062-4. {{cite book}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
↑Joseph Kostiner, The Making of Saudi Arabia, 1916–1936: From Chieftaincy to Monarchical State (Oxford University Press US, 1993), ISBN 0-19-507440-8, p. 104.
↑Molavi, Afshin (2005). The Soul of Iran: A Nation's Journey to Freedom (Hersiene uitg.). England: W. W. Norton & Company. p. 152. ISBN978-0-393-32597-3.
↑Central Intelligence Agency (2011). "Somalia - Government - Judicial branch". The World Factbook (in Engels). Langley, Virginië: Central Intelligence Agency. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 November 2018. Besoek op 2 Mei 2015.
↑ 54,054,1Central Intelligence Agency (2003). "Somalia - Government - Judicial branch". The World Factbook (in Maleis). Langley, Virginië: Central Intelligence Agency. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2017. Besoek op 18 Mei 2015.
↑Egypt's Bid for Arab Leadership: Implications for U.S. Policy, By Gregory L. Aftandilian, Published by Council on Foreign Relations, 1993, ISBN 0-87609-146-X, pages 6–8
Frishkopf, Michael (2010). "Introduction: Music and media in the Arab world and Music and media in the Arab world as music and media in the Arab world: A metadiscourse". In Frishkopf, Michael (red.). Music and media in the Arab world. Kaïro: The American University in Cairo Press. ISBN978-977-416-293-0.
Hourani, Albert Habib (1991). A History of the Arab Peoples. Cambridge, Mass.: Warner Books. ISBN 978-0-674-39565-7.
Hourani, Albert (1983). Arabic Thought in the Liberal Age, 1798–1939. Rev., with a new preface. Cambridge, Eng.: Cambridge University Press. x, 406 p. ISBN 0-521-27423-0 pbk.
Tausch, Arno. A Look at International Survey Data About Arab Opinion (31 Januarie 2014). "A look at recent (2013) international survey data about Arab opinion," Middle East Review of International Affairs, Vol. 17, No. 3 (Herfs 2013), 57–74. Beskikbaar by SSRN or http://dx.doi.org/10.2139/ssrn.2388627 hier
Tausch, Arno (2015). The political algebra of global value change: General models and implications for the Muslim world, with Almas Heshmati and Hichem Karoui (1ste uitg.). Nova Science Publishers, New York. ISBN978-1-62948-899-8.