Die Weegskaal (Latyn: Libra) is ’n sterrebeeld in die suidelike hemelruim en deel van die diereriem. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde. Dis redelik dof en het net een ster helderder as 3 mag.
Ruimtevoorwerpe
Die helderste sterre van die Weegskaal vorm ’n vierhoek:
Die sterrebeeld huisves die ster Gliese 581, wat ’n planetêre stelsel van ses planete het. Gliese 581 d en Gliese 581 g is albei baie moontlike kandidate vir lewe, hoewel Gliese 581 g se bestaan betwis word en onseker is.[1] Gliese 581 c is die eerste planeet soortgelyk aan die Aarde wat om die ster gevind is. Gliese 581 e is sover bekend die planeet met die kleinste massa wat om ’n normale ster wentel.[2] Dit is moontlik dat enige van hierdie planete lewe sal kan huisves.[3]
Geskiedenis
Die Weegskaal was in die Babiloniese sterrekunde bekend as MUL Zibanu ("die weegskaal") of as die Skerpioen se Klou. Die skaal was heilig vir die songod Sjamasj, wat ook die beskermheilige van die waarheid en geregtigheid was.[4] Die sterrebeeld word sedertdien vereenselwig met die wet, geregtigheid en welwillendheid. In Arabies beteken zubānā "skerpioen se kloue" en dit kan wees hoekom die Skerpioen se kloue die Weegskaal geword het.
In die Romeinse mitologie word die sterreteken beskou as die weegskaal wat vasgehou word deur Astraia (voorgestel deur die Maagd), die godin van geregtigheid.
Die Weegskaal is die enigste sterrebeeld van die diereriem wat nie ’n lewende wese simboliseer nie.
Verwysings
↑Found: first rocky exoplanet that could host life, NewScientist, 29 September 2010