Die Klein Leeu (Latyn: Leo Minor) is ’n klein, dowwe sterrebeeld in die noordelike hemelruim wat aan die sterrebeeld Leeu grens. Die helderste sterre in die Klein Leeu vorm ’n rowwe driehoek. Dit is nie in die Antieke tyd as ’n sterrebeeld beskou nie, maar is eers in 1687 deur Johannes Hevelius geskep.
Ruimtevoorwerpe
Die Klein Leeu het nie veel om te sien met klein teleskope nie. Daar is net een ster helderder as 4 mag.
46 Leonis Minoris (Praecipua) is amper (maar nie heeltemal nie) ’n reusester van spektraaltipe K0 wat sowat 98 ligjare van die Aarde af lê. Dit het ’n helderheid van 3,83 mag. R Leonis Minoris is ’n veranderlike ster wat wissel tussen 6,3 en 13,2 mag in ’n tydperk van 372,19 dae.
Een van die helderste verafgeleë voorwerpe in die Klein Leeu is NGC 3003, ’n sterrestelsel met ’n oënskynlike helderheid van 11,7 mag.
Die geheimsinnige voorwerp wat algemeen bekend is as Hanny se Voorwerp, van die Nederlandse naam, Hanny's Voorwerp, is in 2007 ontdek deur die Nederlandse onderwyseres Hanny van Arkel terwyl sy as vrywilliger aan ’n Galaxy Zoo-projek deelgeneem het.