Die Tasmansee (Engels: Tasman Sea, Māori: Te Tai-o-Rehua) is 'n see van die Stille Oseaan en is geleë tussen Australië in die weste en Nieu-Seeland in die ooste. Die see is genoem ná die Nederlandse ontdekkingsreisiger Abel Tasman, wat onder andere in 1642 en 1643 Nieu-Seeland en Tasmanië ontdek het. Omstreeks 1770 het die Britse ontdekkingsreisiger James Cook tydens sy eerste ontdekkingsreis die see ondersoek.
Die Tasmansee is 2 800 km lank, tot 2 200 km wyd, het 'n oppervlakte van ongeveer 2 300 000 km² en 'n gemiddelde diepte van 5 200 m.[1] Eilande in die Tasmansee sluit in Lord Howe-eiland, Ball’s Pyramid en Norfolkeiland, wat almal tot Australië behoort, terwyl Nieu-Seeland se Noordeiland en Suideiland die oostelike grens van die see vorm. Die belangrikste nedersettings aan die see is Hobart, Newcastle en Sydney in Australië asook Auckland, Wellington en Wollongong in Nieu-Seeland.