Nieu-Delhi (Engels: New Delhi, Hindi: नई दिल्ली, Naī Dillī) is die hoofstad van Indië en is geleë in die Nasionale Hoofstadgebied in die noorde van die land aan die Yamunarivier. Nieu-Delhi het in 2012 'n bevolking van 249 998 gehad en het 'n oppervlakte van 42,7 km². Nieu-Delhi is op 15 Desember1911 gestig as hoofstad van Brits-Indië en dien sedert 15 Augustus1947 die hoofstad van die onafhanklike Indië. In dié stad is al drie takke van die Indiese regering gesetel.
Nieu-Delhi is in 1911 deur George V tydens sy besoek aan Delhi gestig.[1] Dit is deur die Britse argitekte Sir Edwin Lutyens en Sir Herbert Baker ontwerp. Die nuwe hoofstad is op 13 Februarie 1931 deur die adjunkkoning Lord Irwin ingewy.[2]
Alhoewel beide Delhi en Nieu-Delhi uitruilbaar gebruik word om na die Nasionale Hoofstadgebied van Delhi (NCT) te verwys, is dit twee afsonderlike entiteite, en Nieu-Delhi vorm 'n klein deel van Delhi. Die nasionale hoofstadstreek is 'n veel groter entiteit wat die hele NCT saam met aangrensende distrikte in buurstate beslaan.
Lugvervoer
Nieu-Delhi beskik met die Indira Gandhi-lughawe oor 'n groot internasionale lughawe van hoogstaande gehalte. Die lughawe het saam met ander internasionale lughawens, die spesiale "2021 COVID-19 Airport Excellence"-toekenning ontvang vir die behoorlike toepassing van Covid-19-riglyne, insluitend die gebruik van gesigmaskers, handreiniger, sosiale afstand, higiëneprosedures by sekuriteit, sosiale afstand by sekuriteit/immigrasie, terminaalnetheid en skoon badkamers.[3]