Dhaka (Bengaals: ঢাকা, [ˈɖʱaka]; tot in 1983 Dacca) is die hoofstad en grootse stad van Bangladesj. Die stad het 'n bevolking van 6 970 105 in 2011 gehad en beslaan 'n oppervlakte van 300 km². Dit is in 1608 gestig en net noord van die Ganges se monding in die Golf van Bengale geleë.
Geskiedenis
Boeddhistiese en Hindoeïstiese koninkryke
Reeds in die 7de eeu was daar 'n nedersetting op die gebied van die huidige Dhaka. Die klein gebied is regeer deur die Boeddhistiese koninkryk Kamarupa en die Pala-ryk voordat die oorheersing in die 9de eeu oorgedra is aan die Hindoeïstiese Sena-dinastie. Die naam is moontlik afgelei van die Dhakeshwari-tempel wat in die 12de eeu deur Ballal Sena gestig is. Die stad self het bestaan uit 'n paar marksentras soos Lakshmi Bazar, Shankhari Bazar, Tanti Bazar, Patuatuli, Kumartuli, Bania Nagar en Goal Nagar. Ná die val van die Sena-ryk is Dhaka agtereenvolgens regeer deur die Sultanaat Bengale, en tussenin onderbreek deur goewerneurs van die Sultanaat Delhi.
Mogolryk
In 1576 het die grootste deel van Bengale onder die beheer van die Mogolryk gekom.
Latere geskiedenis
Van 1608 tot 1704 was dit die hoofstad van Bengale. Voordat die stad in 1765 onder die gesag van die Verenigde Koninkryk was, was Dhaka 'n handelsentrum vir Britte, Franse en Nederlanders. Op 8 Augustus 1874 is die fondamentsteen gelê vir 'n watervoorsieningsnetwerk.
In 1881 het die stad 'n bevolking van 79 076 gehad, byna net soveel Hindoes as Moslems. Destyds was Dhaka die belangrike handelsentrum vir rys uit die delta, vir indigo en hout van Tippera en vir tee van Assam. Tydens die Britse administrasie was die stad die setel van baie amptelike dienste en skole. Die olifantdepot was opvallend. In 1905 het Dhaka die hoofstad van Bengale geword en in 1956 die hoofstad van Oos-Pakistan.
Dhaka het in 1971 die hoofstad van Bangladesj geword toe die land van Pakistan onafhanklik geword het. Tot in 1982 is die naam in die Latynse alfabet as Dacca gespel.