Baie van die dorp se geboue in Kerkstraat dateer van die tweede helfte van die 18de eeu. Op 29 September1969 het 'n aardbewing, wat 6,5 op die Richterskaal gemeet het, die dorp verwoes en nege menselewens geëis. Tulbagh lê regstreeks op 'n breuk in die ondergrondse rots wat die sterkte van die aardbewing verklaar. Die heropbou en restourasie van Tulbagh was die grootste projek van dié soort wat tot dusver in Suid-Afrika aangepak is.
Wapens
Drostdy — Die Kaapse regering het in 1804 heraldiese seëls aan die plaaslike owerhede toegewys. Die Tulbagh-drostdy het Ryk Tulbagh se familiewapen gekry, nl. 'n silwer skild met drie afgesnede Turkkoppe daarop. 'n Anker is agter die wapen geplaas. Die regering het egter in 1814 besluit dat drostdye voortaan eerder die Britse koningswapen moet gebruik.[3]
Die Munisipaliteit, wat in 1861 gestig is, het jare lank Ryk Tulbagh se wapen gebruik. 'n Gedifferensieerde weergawe daarvan is in 1984 by die Buro vir Heraldiek geregistreer: In blou, drie gebaarde afgesnede Turkkoppe van natuurlike kleur, getulband van silwer. Die helmteken was 'n uitkomende gepantserde regterarm wat 'n kromswaard met die hand swaai.[4]
Ekonomie
Die vrugtebedryf is een van die belangrikste plaaslike werkgewers. Vrugte word veral in die noordelike en suidelike dele van die Tulbaghvallei verbou en sluit appels, pere, pruime, perskes, appelkose en sitrusvrugte in. Die grootste deel van die vrugteopbrengs word na Europa, Noord-Amerika en Asië uitgevoer, maar 'n aansienlike gedeelte word ook plaaslik verwerk as droë- of geblikte vrugte.
Wynbou het al lank 'n groot rol in die Tulbaghvallei gespeel, maar dié bedryf het sedert die negentigerjare van die 20ste eeu die vinnigste gegroei. Daar is nou 'n groot aantal wynplase, waarvan sommige wêreldroem geniet. Danksy die topgehalte van plaaslike wyne, wat na bestemmings orals ter wêreld uitgevoer word, is baie nuwe wingerde aangeplant, en nuwe wynkelders het ontstaan. Baie van die wynkelders maak nou deel uit van Tulbagh se Wynroete, een van die gewildste toeristebestemmings in die Wes-Kaap.
Besienswaardighede
Die Oude Kerk Volksmuseum behandel die geskiedenis van Tulbagh.
Verskeie wynplase in die omgewing.
Sien ook
Wikimedia Commons bevat media in verband met Tulbagh.