Niobium is 'n chemiese element in die periodieke tabel met die simbool Nb en atoomgetal van 41. Niobium is 'n seldsame sagte, grys, pletbare oorgangsmetaal wat in die mineraalkolumbiet aangetref word en word gebruik in verskeie legerings. Die bekendste legerings word gebruik om spesiale staalsoorte en sterk sweislaste te vervaardig. Niobium is in verskeie minerale ontdek wat as kolumbiete bekend staan. Charles Hatchett (1765-1847) het aanvanklik in 1801 die element hierna ook Columbium (Cb) genoem. Daar was egter verwarring omdat in 1802 tantaal ontdek is en mense gedink het dat columbium en tantaal dalk dieselfde element was. Heinrich Rose het beweer dat kolumbiet naas tantaal twee ander elemente bevat het wat hy niobium en pelopium genoem het. Later het geblyk dat niobium en columbium identiek was en nie columbium en tantaal nie. Altwee name columbium en niobium is steeds tot 1949 gebruik tot die IUPAC besluit het dit niobium te noem.[1] Die mineraal heet nogtans steeds kolumbiet.
Kenmerkende eienskappe
Niobiem is 'n blink grys, pletbare metaal wat 'n blouerige tint verkry wanneer dit by kamertemperatuur vir 'n verlengde periode aan lug blootgestel word. Niobium se chemiese eienskappe is bykans identies aan dié van tantaal, wat reg onder niobium op die periodieke tabel voorkom.
Wanneer dit verwerk word moet niobium onder 'n beskermende atmosfeer geplaas word selfs by lae temperature. Die metaal begin om in lug by 200 °C te oksideer; met mees algemene oksidasietoestande van +3 en +5. Ander toestande is wel ook bekend.
Gebruike
Niobium het 'n aantal gebruike: dit is 'n bestanddeel van sommige vlekvrye staalsoorte en in sommige nie-yster metaallegerings. Hierdie legerings is baie sterk en word dikwels gebruik in die konstruksie van pyplyne. Ander gebruike sluit in:
Die metaal het 'n lae vangsdeursnee vir termiese neutrone en word dus in die kernnywerheid gebruik;
Niobium word ondersoek as 'n alternatief vir die gebruik van tantaal in kapasitore.
Omdat niobium-metaal en sommige van sy legerings fisiologies inert (en dus hipoallergenies) is, word hulle gebruik in juwele en in mediese toestelle soos pasaangeërs. Niobium-metaal wat behandel word met natriumhidroksied vorm 'n poreuse laag wat osseintegrasie aanhelp.[2]
Saam met titaan, tantaal en aluminium kan Niobium ook elektries verhit en geanodiseer word na 'n wye verskeidenheid kleure deur van 'n proses gebruik te maak wat bekend staan as reaktiewe metaalanodisering. Dit maak die metaal aantreklik vir gebruik in juweliersware.
Niobium kan ook by glas gevoeg word om 'n hoër refraksie-indeks te verkry, 'n eienskap wat belangrik is in die optiese nywerheid om dunner brilglase moontlik te maak.
Niobium word 'n supergeleier by kriogeniesetemperature. By atmosferiese druk het dit die hoogste kritieke temperatuur van die suiwer element supergeleiers: 9.3 K. Niobium het ook die grootste magnetiese penetrasie-diepte van enige element. Verder is dit een van slegs drie suiwer element supergeleiers (vanadium en tegnesium is die ander twee) wat Tipe II supergeleiers is, wat beteken dat dit 'n supergeleier bly wanneer dit blootgestel word aan sterk magnetiese velde. Niobium-tin en niobium-titaanlegerings word gebruik vir drade in supergeleiermagnete wat in staat is om buitengewoon sterk magnetiese velde te produseer. Niobium word ook in die suiwer vorm gebruik om supergeleidende komponente vir partikelversnellers te vervaardig.
Geskiedenis
Niobium se naam is afkomstig uit Griekse mitologie en is vernoem na Niobe, die dogter van Tantalus. Die element is in 1801 deur Charles Hatchett ontdek. Hatchett het niobium in kolumbiet-erts ontdek wat in die 1750's deur John Winthrop, die eerste goewerneur van Connecticut na Engeland gestuur is. Daar het baie verwarring ontstaan oor die verskil tussen die nou-verwante niobium en tantaal en die probleem is eers in 1846 opgelos deur Heinrich Rose en Jean Charles Galissard wat die element toe herontdek het. Omdat Rose nie bewus was van Hatchett se werk nie, het hy die element 'n ander naam, Niobium gegee. In 1864 was Christian Blomstrand die eerste gewees om die suiwer metaal voor te berei deur niobiumchloried in 'n waterstof atmosfeer te reduseer.
Kolumbium (simbool Cb) was die aanvanklike naam wat Hatchett aan die element gegee het, maar Internasionale Vereniging van Suiwer en Toegepaste Chemie (IUPAC) het "niobium" as die amptelike naam vir element 41 in 1950 aanvaar meer as 'n 100 jaar na die omstredenheid ontstaan het.
↑Godley Reut, David Starosvetsky en Irena Gotman, 2004, Bonelike apatite formation on niobium metal treated in aqueous NaOH, Journal of Materials Science: Materials in Medicine volume = 15 bladsye = 1073–1077 PDF-formaat[dooie skakel], afgelaai op 2006-09-07