Dame Helen Lydia MirrenDBE (geb. Mironoff op 26 Julie1945) is ’n Britse aktrise. Sy het haar loopbaan in 1967 by die Royal Shakespeare Company begin en is een van die min akteurs wat drie van die volgende vier pryse gewen het: die Oscar, Emmy, Grammy en Tony. Sy het die Oscar vir beste aktrise in 2007 ontvang vir haar rol as koningin Elizabeth II in The Queen. In 2015 het sy die Tony gewen vir beste aktrise in ’n toneelstuk[1] vir haar rol, ook as Elizabeth II, in The Audience.[2] In 1993 het sy die eerste van verskeie Emmys gewen vir haar rol as speurder Jane Tennison in die ITV-reeks Prime Suspect.
Van haar ander noemenswaardige rolle was in die 1984-rolprentCal, waarvoor sy ’n Cannes-prys gewen het, The Cook, the Thief, His Wife & Her Lover (1989), The Madness of King George (1994), Teaching Mrs. Tingle (1999), Gosford Park (2001), Calendar Girls (2003), The Last Station (2009), Hitchcock (2012) en The Hundred-Foot Journey (2014). Sy het ook die rol van Victoria Winslow vertolk in die aksiekomedies Red en Red 2.
Sy is in Hammersmith, Londen, gebore as Helen Lydia Mironoff,[6][7] dogter van Vasily Petrovich Mironoff en Kathleen "Kitty" Rogers. Haar ma was Engels en haar pa Russies. Hy was oorspronklik van Koerjanowo in Smolensk-oblast, Rusland.[8] Haar oupa aan vaderskant, kolonel Pjotr Wasilijewitsj Mironof, was in die keiserlike Russiese leër en het in die Russies-Japannese Oorlog van 1904 geveg. Hy het later ’n diplomaat geword en was besig met wapenonderhandelings in Brittanje toe die Russiese Rewolusie in 1917 uitbreek en hy en sy gesin in Brittanje gestrand sit.[9] Die voormalige diplomaat het ’n taxibestuurder in Londen geword om sy gesin te onderhou en het hom eindelik in Engeland gevestig. Hy het sy van Mironoff gespel.
Sy seun, Helen se pa, het hul van in die 1950's tot Mirren verengels en sy naam na Basil Mirren verander. Hy het die viola in die Londense Filharmoniese Orkes bespeel voor die Tweede Wêreldoorlog en later ’n taxi bestuur voordat hy ’n staatsdienswerker geword het. Mirren se ma was van die Ooseinde, die 13de van 14 kinders van ’n slagter wie se eie pa koningin Victoria se slagter was. Mirren beskou haar opvoeding as "baie antimonargisties".[10]
Mirren was die tweede van drie kinders. Sy het in Leigh-on-Sea, Essex, grootgeword.[11]
Loopbaan
Vroeë werk
Nadat Mirren haar skoolloopbaan en studie aan ’n onderwyserskollege in Londen voltooi het, is sy in die National Youth Theatre (NYT) aanvaar. Danksy haar werk hier is sy genooi om by die Royal Shakespeare Company aan te sluit. In 1970 het die regisseur/vervaardiger John Goldschmidt ’n dokumentêre rolprent, Doing Her Own Thing, gemaak oor Mirren tydens haar tyd by die Royal Shakespeare Company; dit is in Brittanje op televisie gewys.
Teater
Van November 1975 af het Mirren in verskeie produksies in die Weseinde gespeel. Ná ’n redelik onsuksesvolle poging tot ’n loopbaan in Amerika het sy na Brittanje teruggekeer en weer in verskeie Britse produksies opgetree. Op 15 Februarie 2013 het sy in die Gielgud-teater die rol begin vertolk van koningin Elizabeth II in die wêreldpremière van Peter Morgan se The Audience.[12] In April is sy by die Olivierprys-toekenningsaand aangewys as beste aktrise vir dié rol.[13]
Nog ’n verhoogdeurbraak het in 1994 in die Weseinde gevolg, as Natalja Petrowna in Iwan Toergjenef se A Month in the Country. Haar mede-akteurs was John Hurt en Joseph Fiennes. Sy is twee keer benoem vir ’n Tony vir die rol. Op 7 Junie 2015 het sy die Tony gewen vir haar vertolking van koningin Elizabeth II in The Audience.
Rolprente
Mirren het in haar loopbaan in talle rolprente gespeel. Van haar vroeëre optredes sluit in rolle in A Midsummer Night's Dream (1968), Age of Consent, O Lucky Man!, Caligula, Excalibur, 2010, The Long Good Friday, White Nights, The Mosquito Coast en The Madness of King George.
Meer onlangs het sy gespeel in Gosford Park saam met Maggie Smith en in Calendar Girls saam met Julie Walters, asook in The Clearing, Pride, Raising Helen en Shadowboxer. Sy het ook die stem verskaf vir verskeie rolprentrolle. Tydens haar loopbaan het sy drie Engelse koninginne in verskillende rolprente en TV-reekse vertolk: Elizabeth I in die TV-reeks Elizabeth I (2005), Elizabeth II in The Queen (2006) en Charlotte van Mecklenburg-Strelitz, vrou van George III, in The Madness of King George (1994). Sy is die enigste aktrise wat albei koninginne Elizabeth op die silwerdoek uitgebeeld het.
Mirren het verskeie pryse gewen vir haar naamrol in The Queen, onder meer ’n Bafta, Golden Globe en Oscar. Sy het Alfred Hitchcock se vrou gespeel in die 2012-prent Hitchcock, oor die maak van die 1960-prent Psycho.[14]
In 2014 het sy saam met die Indiese akteur Om Puri verskyn in die komediedrama The Hundred-Foot Journey en in 2015 saam met Ryan Reynolds in Woman in Gold.[15] Laasgenoemde prent het gemengde reaksie uitgelok, hoewel Mirren en Reynold se spel geloof is.[16] Sy was ook Hedda Hopper, die bekende aktrise en skinderrubriekskrywer, in die 2015-biografiedrama Trumbo.
Televisie
Mirren is bekend vir haar rol as speurder Jane Tennison in die gewilde Prime Suspect, ’n televisiedramareeks wat verskeie pryse gewen het. Vir haar vertolking van Tennison het sy tussen 1992 en 1994 drie agtereenvolgende Bafta-pryse ontvang.[17] Sy het ook talle ander TV-rolle vertolk, onder meer in Cousin Bette (1971); As You Like It (1979); The Twilight Zone (1985); The Passion of Ayn Rand (1999), waarvoor sy ’n Emmy en Golden Globe gewen het; en The Collection, saam met Laurence Olivier, Alan Bates en Malcolm McDowell. Sy was Elizabeth I in Elizabeth I (2005), waarvoor sy ’n Emmy gewen het. Haar ander vertolking waarvoor sy ’n Emmy gekry het, was in Prime Suspect: The Final Act (2006).
Persoonlike lewe
Mirren het in die vroeë 1980's saam met die akteur Liam Neeson gewoon. Sy is op 31 Desember 1997, op sy 53ste verjaardag, getroud met haar lewensmaat sedert 1986, die regisseur Taylor Hackford.[18] Hulle het op die stel van die rolprent White Nights ontmoet. Dit is haar eerste huwelik en sy derde.
Mirren se outobiografie, In the Frame: My Life in Words and Pictures, is in September 2007 in Brittanje gepubliseer.[19]
↑Lahr, John (2 Oktober 2006). "Command Performance" (in Engels). The New Yorker. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Desember 2013. Besoek op 24 Oktober 2010.
↑Births, Marriages & Deaths Index of England & Wales, 1916–2005.; at ancestry.com
↑Finn, Natalie (26 Februarie 2007) "Helen Mirren, British Royal Tea?". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2007. Besoek op 12 Januarie 2016.{{cite web}}: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link). E! Online. URL besoek op 30 Desember 2013
↑Piccalo, Gina (7 Februarie 2011) "Helen Mirren interview". The Telegraph. URL besoek op 6 November 2012