Vanessa Redgrave, CBE (gebore op 30 Januarie1937) is ’n Britseaktrise van die verhoog, rolprente en televisie, asook ’n politieke aktivis. Sy is in 2003 in die Amerikaanse teater-eresaal opgeneem[1] en het in 2010 ’n Bafta-fellow geword.[2]
Loopbaan
Redgrave het in 1961 bekend geword in die rol van Rosalind in As You Like It vir die Royal Shakespeare Company. Sy het sedertdien in meer as 35 West End- en Broadway-produksies opgetree; in 1984 het sy die Olivier-prys vir The Aspern Papers gewen en in 2003 die Tony vir Long Day's Journey into Night. Sy het ook Tony-benoemings gekry vir die toneelstukke The Year of Magical Thinking en Driving Miss Daisy.
Sy het verder in meer as 80 rolprente verskyn en is ses keer vir ’n Oscar benoem; sy het gewen vir die titelrol in Julia (1977). Haar ander benoemings was vir Morgan: A Suitable Case for Treatment (1966), Isadora (1968), Mary, Queen of Scots (1971), The Bostonians (1984) en Howards End (1992).
Van haar ander bekende rolle was in A Man for All Seasons (1966), Blowup (1966), Camelot (1967), The Devils (1971), Murder on the Orient Express (1974), Prick Up Your Ears (1987), Mission: Impossible (1996), Atonement (2007), Coriolanus (2011) en The Butler (2013). Sy is deur Arthur Miller en Tennessee Williams "die grootste lewende aktrise van ons tyd" genoem. Sy het talle pryse gewen: ’n Oscar, Emmy, Tony, Bafta, Olivier-prys, prys vir beste aktrise op die Cannes-rolprentfees, Golden Globe en Screen Actors Guild Award.