SM[2] die Koning SDH[3] die Keurvors van Hannover SDH[3] die Erfprins van Hannover Erfprins van Brunswyk-Lüneburg Hertog Georg Ludwig van Brunswyk-Lüneburg
George I (George Louis; Duits: Georg Ludwig; 28 Mei 1660 – 11 Junie 1727[1]) was van 1 Augustus 1714 tot met sy dood koning van Groot-Brittanje en van Ierland, en van 1698 die heerser van Hannover in die Heilige Romeinse Ryk.
George is gebore in Neder-Sakse in wat nou Duitsland is, en het later die titel en grond van die Hertog van Brunswyk-Lüneburg geërf. Danksy ’n paar agtereenvolgende oorloë in Europa is sy grondgebied tydens sy leeftyd uitgebrei en in 1708 het hy keurvors van Hannover geword. Op 54-jarige ouderdom, ná die dood van koningin Anna van Groot-Brittanje het hy die Britse troon bestyg as die eerste koning van die Huis van Hannover. Hoewel meer as 50 Katolieke nader aan Anna verwant was, het ’n Britse wet van 1701 Katolieke verbied om monarg te word, en George was Anna se naaste Protestantse familielid. In reaksie het die Jakobiete probeer om hom te onttroon en te vervang met Anna se Katolieke halfbroer, James Francis Edward Stuart, maar sonder sukses.
Tydens George se heerskappy is die mag van die koning verminder en het Brittanje sy oorgang begin na die moderne stelsel van ’n kabinetregering met ’n premier as leier. Teen die einde van sy regering was die werklike mag in die hande van sir Robert Walpole, Groot-Brittanje se eerste de facto-premier. George is dood terwyl hy sy vaderland, Hannover, besoek het en is daar begrawe.
In 1675 is George se oudste oom sonder kinders oorlede, maar sy twee ander ooms was getroud en hul grond sou na hulle seuns gaan as hulle seuns gehad het. In 1679 is nog ’n oom onverwags sonder seuns dood en Ernst August het die heersende Hertog van Calenberg-Göttingen geword met Hannover as hoofstad. George se oorlewende oom, George William van Celle, het net ’n dogter gehad. Vanweë die Saliese wet, waarkragtens gronderflatings tot seuns beperk was, het dit na ’n uitgemaakte saak gelyk dat George en sy broers hulle pa en oom se grond sou erf. In 1682 het die familie besluit om die beginsel van eersgeboortereg te aanvaar. Dit het beteken George sou al die grond erf en sy broers niks.[5]
Huwelik
In dieselfde jaar het George met sy niggie Sophia Dorothea getrou. Die huwelik is gereël hoofsaaklik omdat dit ’n goeie jaarlikse inkomste sou verseker en die uiteindelike vereniging van Hannover en Celle sou aanhelp.[6]
George en Sophia het ’n seun, George Augustus, en ’n dogter, Sophia, gehad. Daarna het die egpaar vervreem geraak en is hulle geskei.
Op die Britse troon
Ernst August is op 23 Januarie 1698 oorlede. Hy het al sy grond aan George nagelaat behalwe die prins-biskopdom Osnabrück.
Kort daarna is die tweede aanspraakmaker op die Britse en die Skotse troon, prins Willem, Hertog van Gloucester, dood. Die Britse parlement het in 1701 ’n wet aanvaar waarvolgens George se ma, Sophia, die Britse troon sou bestyg as die destydse koning, (Willem III), en sy skoonsuster, prinses Anna van Denemarke (later koningin Anna), sonder kinders sou sterf. Dit was omdat Sophia die naaste Protestantse familielid van die koningsgesin was; 56 Katolieke wat nader verwant was, is daardeur oor die hoof gesien.[7] Die moontlikheid dat enige van hulle hulle tot die Protestantisme sou bekeer om die troon te kon bestyg was skraal, en sommige het reeds geweier.[8]
In Augustus 1701 het George lid geword van die Orde van die Kousband. Binne ses weke is die naaste Katolieke aanspraakmaker op die troon van Engeland, oud-koning Jakobus II, dood. Koning Willem III is in Maart die volgende jaar dood en Sophia het die vermoedelike opvolger geword van die nuwe koningin van Engeland, Anna. Sophia was in haar vroeë sewentigs, 35 jaar ouer as Anna, maar sy was fiks en gesond, en het geld en energie bestee om die troon vir haar of haar seun te waarborg.[9]
Sophia is op 28 Mei 1714 op 83-jarige ouderdom dood. George was nou koningin Anna se regstreekse erfgenaam. Anna was nie gesond nie en op 1 Augustus van dieselfde jaar is sy ná ’n beroerte dood. George het koning van Groot-Brittanje geword[10] en is op 20 Oktober in die Westminster-abdy gekroon.
Hy het ná 1714 hoofsaaklik in Engeland gewoon, maar het sy tuiste in Hannover in 1716, 1719, 1720, 1723 en 1725 besoek;[11] hy het altesaam ’n vyfde van sy bewind as koning in Duitsland deurgebring.
George is dood tydens sy sesde reis na Hannover vandat hy koning geword het. Hy het op 9 Junie 1727 ’n beroerte gehad op die pad tussen Delden en Nordhorn[12] en het op 11 Junie 1727[1] gesterf. Hy is opgevolg deur sy seun, George Augustus, wat regeer het as George II.
In rolprente en op TV
Die rol van George I is al vertolk deur die akteurs Peter Bull in Saraband for Dead Lovers (1948), Eric Pohlmann in Rob Roy, the Highland Rogue (1953), Otto Waldis in The Iron Glove (1954) en Steve Plytas in ’n episode van die Granada Television-reeks Rogues' Gallery met die titel "A Bed-Full of Miracles" (1969).
↑ 1,01,11,2Die Juliaanse kalender, wat in hierdie tyd in Brittanje gebruik is, word deurgaans vir datums in hierdie artikel gebruik, tensy anders aangedui; daar word egter aanvaar dat jare op 1 Januarie begin en nie op 25 Maart, wat die Engelse Nuwejaar was, nie.