Daar is gewoonlik nie algehele konsensus oor die terminologie nie; variëteite van "argaïese mense" word soms ingesluit onder die binomiale naamHomo sapiens en soms onder Homo erectus.
Argaïese mense se brein was gemiddeld 1 200 tot 1 400 cm3 groot, wat oorvleuel met dié van moderne mense. Argaïese mense word van anatomies moderne mense onderskei deurdat hulle ’n dik skedel, prominente wenkbrouboë en geen prominente ken gehad het nie.[5][6]
Anatomies moderne mense het sowat 300 000 jaar gelede in Afrika[7][1][3][8] en 70 000 jaar gelede verskyn. Hulle het die argaïese variëteite geleidelik vervang. Niemoderne variëteite van Homo het beslis tot ná 30 000 gelede nog bestaan en dalk tot so onlangs as 12 000 jaar gelede. Watter van hulle, indien enige, onder "argaïese mense" ingesluit word, is ’n kwessie van definisie en verskil van skrywer tot skrywer. Onlangse genetiese studies het aangetoon moderne mense het "met minstens twee groepe" antieke mense gekruisteel: die Neanderdallers en Denisova-hominiene.[9] Ander studies trek dié feit in twyfel en dui daarop die gemengde gene het ’n oorsprong in voorouers van beide groepe van 500 000 - 800 000 jaar gelede.[10][11]
Nog ’n groep, die Edelhert-grotmense van China, het dalk 11 500 jaar gelede nog bestaan.[12] Chris Stringer van die Natuurhistoriese Museum in Londen het voorgestel dié mense het ontstaan uit ’n kruising tussen die Denisova-hominiene en moderne mense.[13] Ander wetenskaplikes is egter skepties daaroor en meen die unieke eienskappe is te verwagte binne die variasies van die moderne menslike bevolkings.[14]
Die kategorie "argaïese mense" het geen enkele definisie waaroor almal saamstem nie.[5] Volgens een definisie is Homo sapiens ’n enkele spesie met verskeie subspesies wat die argaïese en moderne mens insluit. Volgens dié definisie word na die moderne mens verwys as Homo sapiens sapiens en argaïese mense word "Homosapiens" genoem. Daarvolgens is die Neanderdallers byvoorbeeld Homo sapiens neanderthalensis en is Homo heidelbergensis dus Homo sapiens heidelbergensis. Ander taksonome verkies om die argaïese en moderne mens as verskillende spesies te beskou. Hulle praat van Homo neanderthalensis en Homo heidelbergensis.[5]
Die evolusionêre skeidingslyne tussen moderne mense en argaïese mense en tussen argaïese mense en Homo erectus is onduidelik. Die oudste bekende fossiele van anatomies moderne mense soos die Omo-oorblyfsels van 195 000 jaar gelede, Homo sapiens idaltu van 160 000 jaar gelede en die Qafzeh-oorblyfsels van 90 000 jaar gelede kan herken word as moderne mense. Hierdie vroeë moderne mense het egter sekere argaïese eienskappe gehad, soos matige, maar nie prominente, wenkbrouboë.
Vergroting van die brein
Die verskyning van argaïese mense word soms gebruik as ’n voorbeeld van "punktuasie-ewewig",[15] waar ’n spesie in ’n relatief kort tydperk aansienlike biologiese evolusie ondergaan, en daarna vir lang tydperke min veranderings tot die volgende "punktuasie" (onderbeking of afwisseling). Die argaïese mense se brein het aansienlik vergroot, van 900 cm3 in erectus tot 1 300 cm3. Sedert die hoogtepunt in menslike breingroottes tydens die argaïese tydperk het dit begin afneem.[16]
Oorsprong van taal
Die Britse antropoloog Robin Dunbar meen taal is die eerste keer deur argaïese mense gebruik. Ná sy ontleding van die verhouding tussen breingrootte en die grootte van hominiengroepe het hy tot die gevolgtrekking gekom dat argaïese mense vanweë hulle groter brein in groepe van tot 120 individue gewoon het. Hy reken dit is onmoontlik dat hominiene in sulke groot groepe kon woon sonder om taal te gebruik, want anders sou daar geen groepkohesie (saamklewing) gewees het nie en sou die groep uiteenspat. In vergelyking daarmee woon sjimpansees in kleiner groepe van tot 50 individue.[17][18]