Die gebied was deel van ’n groot kruispad in die antieke wêreld.[1] Verskeie nomadiese stamme het tydens tydperke van migrasie deur die gebied getrek en tekens is op argeologiese terreine gevind dat antieke mense hier gewoon het.[2] Die Altaivolk is ’n Turkse volk wat aanvanklik nomadies was en tot die 2de millennium v.C. terugstrek, en waarvan sommige lede hier kom woon het.[3]
Die gebied is beheer deur die Xiongnu-ryk (209 v.C. - 93 n.C.), Rouran-khaganaat (330-555), Mongoolse Ryk (1206-1368), Goue Horde, Noord-Yuan (1368-1691) en Zunghar-khanaat (1634-1758).[4]
In die tydperk tussen die twee wêreldoorloë het die Sowjetunie die vee en landboubedrywighede van die Altai gekolletiviseer; dit het tot teenstand gelei en ’n deel van die volk het met hulle kuddes na China en Mongolië getrek.[6]
In Junie 1942 was die Altai-krai een van die gebiede waarheen die gesinne gestuur is van mans wat uit Oos-Europa verban en in strafkampe beland het – veral "buitelanders" en "ander etniese groepe" soos uit Litaue en Letland.[7]
Geografie
Altai-krai bestaan uit heuwels, graslande, mere, riviere en berge.[8]
Die winters is lank en koud en die somers warm en gewoonlik droog. Die grootste rivier is die Ob en die grootste mere die Koeloendinskoje, Koetsjoekskoje en Michailofskoje.[2]
Altai-krai het ryk natuurlike hulpbronne, insluitende hout, sowel as aansienlike minerale bronne. Dit sluit in lood, mangaan, wolfram, molibdeen, goud en ysterserts. Woude bedek sowat 60 000 km2 van die gebied.[2]
Hierdie streek van Siberië is uiters belangrik vanweë sy biodiversiteit; ’n gebied van meer as 16 000 km2 word deur Unesco as ’n wêrelderfenisgebied erken. Verskeie seldsame diere kom hier voor, onder meer die bedreigde sneeuluiperd.
Altai-krai is een van Rusland se belangrikste landboustreke. Landerye beslaan sowat 110 000 km² van die streek. Lentekoring, bokwiet, mannakoring, ertjies, gort, hawermout, aartappels en ander groente word verbou. Dis die enigste streek in Siberië waar sonneblomme, sojabone en sekere soorte vrugte groei.
Veeteelt is hoofsaaklik vir die vervaardiging van melk, vleis, kaas en eiers. Dis ook ’n belangrike streek vir skaapboerdery en wolproduksie.