Upsilon Andromedae (ook υ And genoem) is ’n dubbelster sowat 44 ligjare van die Aarde af in die sterrebeeldAndromeda. Die hoofster, Upsilon Andromedae A, is ’n geelwitdwergster effens jonger as die Son. Die tweede ster in die stelsel, Upsilon Andromedae B, is ’n rooidwerg in ’n wye wentelbaan.
Vier planete (soos in 2010) wentel om die hoofster. Al vier is waarskynlik Jupiter-agtige planete. Upsilon Andromedae was beide die eerste veelvoudige planeetstelsel wat om ’n hoofreeksster ontdek is en die eerste veelvoudige planeetstelsel in ’n veelvoudige sterstelsel.
Dubbelster-komponente
Upsilon Andromedae is taamlik na aan ons sonnestelsel geleë: sowat 44 ligjare.[3] Upsilon Andromedae A het ’n skynbare helderheid van 4,09 en kan dus selfs in effens onsuiwer toestande met die blote oog gesien word. Die dowwer ster is net met ’n teleskoop sigbaar.
Upsilon Andromedae A is ’n geelwitdwergster met ’n sterreklassifikasie van F8V – soortgelyk aan die Son, maar jonger, helderder en met ’n groter massa. Volgens die Genève-Kopenhagen-opname is dit sowat 3,1 miljard jaar oud en het dit dieselde verhouding van yster tot waterstof as die Son.[4] Teen sowat 1,3 sonmassas is sy leeftyd korter as dié van die Son. Die hoeveelheid ultravioletstraling op enige van die planete in sy bewoonbare sone sal dieselfde wees as dié wat die Aarde van die Son kry.[5]
Upsilon Andromedae B is ’n rooidwerg met ’n sterreklassifikasie van M4.5V en is skynbaar sowat 750 AE van die hoofster af. Die ware afstand is onbekend. Die ster is in 2002 ontdek in data van die 2MASS-lugopname.[6] Sy massa is kleiner as dié van die Son en hy is baie dowwer.
Planeetstelsel
Die binneste planeet van die Upsilon Andromedae-stelsel, b, is in 1996 ontdek en is in Januarie 1997 aangekondig saam met die ontdekking van die planeet van Tau Boötis en die binneste planeet van 55 Cancri.[7] Die ontdekking is gedoen deur Geoffrey Marcy en R. Paul Butler, albei sterrekundiges aan die San Francisco-staatsuniversiteit. Dit lyk of die planeet verantwoordelik is vir verhoogde aktiwiteit in die chromosfeer van sy ster.[8]
In 1999 het sterrekundiges aan die San Francisco-staatsuniversiteit en die Harvard-Smithsonian-sentrum vir Astrofisika onafhanklik van mekaar tot die slotsom gekom dat daar waarskynlik drie planete in die stelsel is.[9] Die buitenste twee planete is c en d genoem in volgorde van die ster af. Albei hierdie planete het groter eksentrisiteit in hul wentelbane as enige van die planete van ons sonnestelsel, insluitende die dwergplaneetPluto.[10] Upsilon Andromedae d is in die stelsel se bewoonbare sone.[5]
’n Vierde planeet, Upsilon Andromedae e, is in 2010 ontdek.[11]