Die klub het op 5 Mei1895 ontstaan as FC Victoria Hamburg uit die jeugspanne Cito en Excelsior en was aanvanklik geaffilieer met Hamburger SV voordat dit 'n onafhanklike sokkerklub geword het in 1897. Die klub was 'n stigterslid van die DFB in Leipzig in 1901.
Die klub was in die vroeë 1900’s 'n krag in Duitse sokker en het in 1905 (verloor in die kwarteindrondte teen Dresdner SC), 1906 (verloor in die kwarteindrondte teen Union 92 Berlyn) en 1907 (verloor in die kwarteindrondte teen Berliner TuFC Viktoria 89) aan die uitspeelwedstryde om die Duitse titel deelgeneem nadat dit die Noord-Duitse titel gebuit het.
Die klub is op 10 Junie1908 herdoop na SC Victoria Hamburg. In 1933 is Duitse sokker geherorganiseer onder impuls van die Derde Ryk in 16 eerstevlak Gauligas. Victoria het in 1934 na die Gauliga Nordmark gepromoveer en in 1943 die Gauliga Hamburg gewen. Die klub is egter in die uitspeelwedstryde om die Duitse titel in die eerste rondte deur Eintracht Braunschweig uitgeskakel.
Na die Tweede Wêreldoorlog het die klub in die Stadtliga Hamburg meegeding en in 1947 was hulle een van 4 Hamburgse klubs om by die Oberliga Noord op die hoogste vlak aan te sluit.
Hulle is egter na een seisoen gerelegeer, maar het in die 1950’s weer twee seisoene in die topliga deurgebring. Die klub het hierna nog nooit weer die hoogtes van vroeër bereik nie.
'n Ander prestasie van die klub was dat die vroue-handbalspan in 1930 die Duitse kampioenskap gewen het.