Atletiek is die kollektiewe begrip vir verskeie sportaktiwiteite waarin deelnemers hardloop, spring of voorwerpe gooi. Die naam is afgelei van die Griekse woord, "athlon", wat "kompetisie" beteken.
Sommige tale, soos Duits en Russies, verwys na hierdie aktiwiteite as "ligte atletiek" om dit te onderskei van sportsoorte soos stoei en gewigoptel. In Engels word dit gewoonlik "Track and field" genoem.
Geskiedenis
Die oorspronklike en enigste item by die eerste antieke Olimpiese Spele in 776 v.C. was 'n wedren op 'n baan oor die lengte van die stadion.
Daar is verskeie ander "spele" in Europa gehou in die klassieke era"
Die Nemeïese Spele (begin in 516 v.C.) wat elke twee jaar in Argolid gehou is.
Die Romeinse Spele - Die Romeinse Spele, wat begin is deur die Etruriërs eerder as die Grieke, het wedlope en gooi-items nie so belangrik geag nie. Strydwa-renne en stoei, albei Griekse sportsoorte, asook die Etruriese swaardgeveg met gladiatore, het baie aandag geniet.
Die Tailteaanse Spele (skynbaar in 1829 v.C. begin) - gehou naby waar vandag Telltown in Ierland is, was 'n dertigdaagse byeenkoms met items soos wedrenne en klipgooi-items.
Ander volke, soos die Kelte, Teutone en Gote wat die Romeine opgevolg het, het atletiekbyeenkomste geniet. Dit was egter gewoonlik verwant aan vegopleiding. In die Middeleeue is die seuns van edelmanne opgelei in hardloop, spring en stoei, asook perdry, steekspele en wapenopleiding. Wedstryde tussen mededingers en vriende kon algemeen voorgekom het op amptelike en nie-amptelike byeenkomste.
Die L'Olympiade de la République is jaarliks van 1796-1798 in die opstandige Frankryk gehou en is beskou as die voorloper van die moderne Olimpiese Somerspele. Die hoofitem van die kompetisie was 'n wedren maar verskeie ander Griekse items is ook aangebied. Die 1796 Olimpiade het ook die begin van die metriese sisteem aan sport bekendgestel.
In die 19de eeu het die formele organisering van die moderne items toegeneem - veral in Frankryk, Duitsland en die Verenigde Koninkryk. Dit het die insluiting van gereelde sportsoorte en oefening in skoolsisteme meegebring. Die Koninklike Militêre Kollege in Sandhurst meen (sonder ondersteunende bewyse) dat dit die eerste plek is wat dit ingestel het in 1812 en 1825. Die vroegste opgetekende byeenkoms is by Shrewsbury, Shropshire in 1840 deur die Koninklike Shrewsburyskool georganiseer. Die Koninklike Militêre Kollege by Woolwich het 'n georganiseerde byeenkoms in 1849 gehou, maar die eerste gereelde reeks byeenkomste is deur Exeter Kollege in Oxford gehou.[1]
Moderne atletiek-items word gewoonlik rondom 'n hardloopbaan van 400 m georganiseer, waarop die meeste hardloopitems plaasvind. Velditems (spring- en gooi-items) vind gewoonlik plaas op die binneveld binne die baan.
Atletiek is in die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 ingesluit en het sedertdien die ruggraat daarvan gevorm. Vroue is eers met die 1928 Spele toegelaat om deel te neem aan baan- en velditems.
'n Internasionale liggaam, die Internasionale Amateur Atletiekfederasie (IAAF) is in 1912 gestig; die huidige naam, die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies, is in 2001 aanvaar. Die IAAF het aparte opelug Wêrelskampioenskappe in 1983 gevestig. Daar is ook 'n aantal streekspele, soos die Europese Kampioenskap, die Pan-Amerikaanse Kampioenskap en die Statebondspele. Verder is daar ook 'n professionele IAAF Goue Liga sirkelgang wat opbou tot die IAAF Wêreldatletiekfinaal, asook binnenshuise kampioenskappe soos die Wêreldbinnenshuise Kampioenskap. Die sport het 'n baie hoë profiel gedurende groot kampioenskappe, veral die Olimpiese Spele, maar is andersins minder gewild.
In Suid-Afrika word die sportsoort gereguleer deur Atletiek Suid-Afrika (ASA). Die belangrikste Suid-Afrikaanse atletiekkompetisie is die Geelbladsye-reeks wat jaarliks gehou word. Daar is ook verskeie landlope en padwedlope wat deur ASA gereguleer word.
Atletiekseisoene
In die noordelike halfrond is daar normaalweg 'n binnenshuise atletiekseisoen (gedurende die Europese winter) en 'n opelugseisoen (gedurende die Europese somer). In Suid-Afrika is daar nie 'n binnenshuise seisoen nie en 'n atletiekjaar strek van Januarie tot Augustus.
Binnenshuise atletiek
Die meeste binnenshuise atletiekbane is 200 m lank en bestaan uit 8 bane. Daar is ook sekere bane wat 150 m lank is en selfs sommiges so klein as 120 m. Party "groot bane" (groter as 200 m) is gewild onder Amerikaanse atlete ten spyte van die feit dat dit nie geldig is vir die opstel van rekords nie. Die draaie van 'n binnenshuise baan is dikwels teen 'n skuinste om op te maak vir die klein radius van die draai.
In 'n binnenshuise atletiekbyeenkoms neem atlete aan die gewone items soos by 'n opelugbyeenkoms deel, met die uitsondering van die 100 m, 100 m/110 m hekkies (wat vervang word deur 55 m of 60 m naellope of 55 m en 60 m hekkies), die 10 000 m wedloop, 3 000 m hinderniswedloop en die 400 m hekkies. Binnenshuise byeenkomste het die toevoeging van 'n 3 000 m wedloop in plaas van die 10 000 m wedloop. Die 5 000 m is normaalweg die langste item wat binnenshuis gehardloop word, maar daar was kere wat daar langer items gehardloop is. In die middel van die 20ste eeu was daar 'n "tweestryd"-wedloop op die binnenshuise baan van Madison Square Garden, waar twee mans 'n marathon van 42,2 km gehardloop het maar sulke gebeure is baie skaars.
In velditems is daar gewoonlik die hoogspring, paalspring, verspring, driesprong en gewigstoot. Weens beperkte spasie vind hierdie items in die binneveld van die baan plaas. Die langer gooie van spiesgooi, hamergooi en skyfwerp vind gewoonlik slegs in die opelugbyeenkomste plaas omdat daar nie spasie by 'n binnenshuise byeenkoms is nie.
Ander items wat uniek is aan binnenshuise byeenkomste (veral in Noord-Amerika) is die 300 m, 600 m, 1 000 m en gewigstoot (16 kg gewig). In sekere lande, vernaam Noorweë, word verspring en hoogspring van 'n staande posisie ook beslis, selfs in hulle nasionale kampioenskappe.
Vir atlete wat aan multi-items deelneem is daar die vyfkamp vir vroue wat bestaan uit 60 m hekkies, hoogspring, gewigstoot, verspring en 800 m, en die sewekamp vir mans wat bestaan uit 'n 60 m nealloop, verspring, gewigstoot, hoogspring, 60 m hekkies, paalspring en 1 000 m.
Opelugatletiek
Die meeste bane vir opelugatletiek is ovaalvormig en 400 m in omtrek. Moderne "tartanbane" en die nuwe "mondobane" word gemaak met 'n rubberige oppervlak; ouer bane was bedek met 'n laag sintel (steenkoolas). Die atletiekbane bestaan gewoonlik uit 6 tot 10 bane (tot soveel as 12 in die pylvak) en baie sluit ook 'n hindernisbaan, met 'n waterput op een draai, in. Die hindernisput kan binne of buite die baan wees wat 'n nouer of wyer draai tot gevolg sal hê. In Suid-Afrika omring atletiekbane dikwels 'n rugby- of sokkerveld, wat gewoonlik met gras bedek is.
Alle velditems kan op die binneveld beslis word maar soms word spiesgooi, hamergooi en skyfwerp buite die baan beslis omdat dit baie spasie nodig het, dit kan die binneveld beskadig en die implemente kan dalk op die baan beland. Sekere binnevelde word spesifiek gebruik vir hierdie items, wat meebring dat die spiesgooiatleet 'n langer aanloop kan neem oor die bane van die atletiekbaan.
Items
Hardloop- en stapitems
Die hardloopitems wat normaalweg op 'n baan beslis word (400 m, behalwe binnenshuis):
Die tienkamp is ontwerp om 'n atleet se krag, spoed, stamina, uithouvermoë en deursettingsvermoë te beproef en bestaan uit die volgende items:
Dag 1
100 meter
Verspring
Gewigstoot
Hoogspring
400 meter
Dag 2
110 meter hoëhekkies
Skyfwerp
Paalspring
Spiesgooi
1 500 meter
Reëls
Baanitems
Die reëls vir die baanitems van atletiek soos waargeneem in die meeste internasionale atletiekkompetisies word vasgestel deur die IAAF. Die mees onlangse stel reëls is die 2009-reëls wat slegs van toepassing is op kompetisies in 2009.[2] Die belangrikste reëls vir baanitems is die wegspring, hardloop en eindiging van wedlope.
Die wegspring
Die wegspringplek van 'n wedloop is gemerk met 'n 5 cm wye wit streep. In alle wedlope waar elke atleet nie sy eie baan het nie, is die wegspringstreep in 'n boog sodat alle atlete dieselfde afstand van begin tot einde hardloop.[3] Wegspringblokke moet vir alle naellope (tot en met 400 m) gebruik word (dit sluit die eerste been van die 4 x 200 m en 4 x 400 m afloswedlope in) en mag vir geen ander wedloop gebruik word nie. Geen deel van die wegspringblok mag bo-oor die wegspringstreep of in 'n anderbaan gaan nie.[4] Alle wedlope moet deur verslag van die afsitter se geweer of ander goedgekeurde apparaat wat opwaarts vuur sodra vasgestel is dat die atlete gereed en in die korrekte posisie is.[5] Geen atleet mag aan die wegspringstreep of die baan voor die streep raak met sy hande óf voete wanneer die atleet in gereedheid staan nie.[6] By die meeste internasionale kompetisies is die afsitter se bevele in sy eie taal, Engels of Frans en in alle naellope is die terme: "Op u merke" en "gereed". Wanneer alle atlete "gereed" is word die geweer, of 'n goedgekeurde apparaat, afgevuur.[6] Indien die afsitter voel dat die atlete nie reg is nie kan hy hulle terug roep van die wegspringblokke en moet die proses van voor af begin.
Foutiewe wegspring: nadat 'n atleet in die finale gereedheidsposisie beweeg het, mag hy nie met sy wegspringbeweging begin voordat die afsitter, of goedgekeurde apparaat, se skoot afgegaan het nie. Indien dit vir die afsitter lyk of 'n atleet te vroeg weggespring het word dit beskou as 'n foutiewe wegspring. 'n Foutiewe wegspring kan wees dat die atleet nie die bevele ("Op u merke", "gereed") van die afsitter nakom na 'n redelike tyd nie; of indien 'n atleet na die "Op u merke" bevel die aandag van ander atlete aflei deur klank of andersins.[7] Enige atleet wat 'n foutiewe wegspring begaan het moet gewaarsku word.[8]
Die wedloop self
In alle wedlope wat in bane beslis word moet elke atleet in sy vasgestelde baan van begin tot einde bly. Dit geld ook enige deel van wedlope wat in bane gehardloop word. Indien 'n atleet buite die vasgestelde baan beweeg, word hy gediskwalifiseer.[9] Enige atleet wat 'n ander atleet hinder of stamp sodat dit sy vordering nadelig beïnvloed, behoort van daardie item gediskwalifiseer te word.[10] Indien 'n atleet egter deur 'n ander atleet gestamp of gehinder is om buite sy baan te hardloop, en daar het geen voordeel van gekom nie, behoort die atleet nie gediskwalifiseer te word nie.
Die einde
Die einde van die wedloop word gemerk deur 'n 5 cm wye streep.[11] Die atlete moet geplaas word in die volgorde waarvolgens enige deel van hulle bolyf (borskas) (dit word onderskei van die kop, nek, arms, bene, hande of voete) oor die wenstreep gaan.[12]
'n Gelykopuitslag tussen atlete word soos volg hanteer: wanneer vasgestel word dat daar 'n gelykopuitslag is wanneer atlete moet kwalifiseer vir die volgende rondte op grond van hulle tye, word die hooffoto-eindebeoordelaar ingeroep en moet hy die werklike tye van die atlete tot 1/1 000ste van 'n sekonde inagneem. Indien die beoordelaar bevind dat dit 'n gelykopuitslag is, moet die atlete wat gelyk geëindig het in die volgende rondte geplaas word. Indien dit nie moontlik is nie moet lootjies getrek word om te bepaal wie in die volgende rondte sal deelneem. In die geval van 'n gelykopuitslag vir die eerste plek moet die skeidsregter besluit of dit moontlik is vir die atlete om weer teen mekaar te hardloop om te bepaal wie wen. Indien hy bevind dat dit nie moontlik is nie staan die gelykopuitslag. Gelykopuitslae vir die ander plekke bly staande.