Port Alfred is 'n gewilde vakansieoord in die Oos-Kaapprovinsie, Suid-Afrika, wat uitstekende geriewe vir alle soorte watersport bied. Die dorp lê by die monding van die Kowierivier, halfpad tussen Port Elizabeth en Oos-Londen op die R72-pad. Die Methodist Settlers' Church uit die jaar 1827 is 'n nasionale monument.
Geskiedenis
Die geskiedenis van die dorp is nou saamgeweef met dié van die rivier en hawe. Die Britse Setlaars van 1820 het gou die potensiaal van 'n hawe in die riviermond raakgesien. Die regering was hulle goedgesind en in 1821 het die brik Locust maklik oor die sandbank by die mond gevaar. Na 10 jaar het die regering egter onttrek. William Cock het daarna 'n maatskappy in 1841 gestig, die Kowie Harbour Improvement Company om die hawe verder te ontwikkel. In 1857 oorreed hy die regering om weer betrokke te raak. Die hawe word in 1861 vir verkeer oopgestel en die volgende 20 jaar was 'n bloeitydperk vir die hawe.
Die dorp self is in 1825 gestig en het eers Port Frances geheet. In 1860 is die naam na Port Alfred verander om die besoek van die tweede seun van koningin Victoria te gedenk. Die koms van die spoorlyn in 1881 was die finale spyker in die hawe se doodskis.
Omgewing
Die Kowierivier is vir 32 km bevaarbaar. Die dorp is vandag 'n gewilde vakansiebestemming wat visvang, skubaduik, branderplankry en ander ontspanning aanbied. Die dorp is ook gewild onder die skulpversamelaars, meer as 1 800 verskillende spesies skulpe is op die kus gevind.
Port Alfred is ook die tuiste van van Stenden Suid-Afrika - deel van Stenden Universiteit in Nederland.
Sien ook
Verwysings
Bronnelys
Verwante boeke