Twee modelle van 'n generiese pentakwark
q stel 'n
kwark voor, terwyl
q 'n
antikwark voorstel. Die golwende verbindingslyne stel
gluone voor, wat die
sterk wisselwerking tussen die kwarke bewerkstellig. Die kleure verteenwoordig die verskillende
kleurladings van kwarke. Die kleure rooi, groen en blou moet elkeen teenwoordig wees en die oorblywende kwark en antikwark moet oor 'n ooreenstemmende kleur en antikleur beskik, wat hier deur blou en antiblou (ter illustrasie geel gekleurd) verteenwoordig word.
’n Pentakwark is ’n hipotetiese subatomiese deeltjie wat uit vier kwarke en ’n antikwark bestaan wat saamgebind is (in teenstelling met drie kwarke in normale barione). Aangesien die bariongetal van kwarke +1⁄3 en dié van antikwarke −1⁄3 is, sal die totale bariongetal 1 wees, wat as ’n eksotiese barion geklassifiseer sal word.
Michał Praszałowicz het in 1987 die eerste keer die bestaan van pentakwarke voorspel,[1] maar dit was buitengewoon moeilik om te ontdek, en sommige wetenskaplikes het selfs gemeen ’n onbekende natuurwet voorkom die vorming daarvan.[2]
In die middel 2000's het verskeie eksperimente die bestaan van pentakwarke na bewering bevestig,[3] maar latere eksperimente en ’n herontleding van die resultate kon geen bewyse vir die bestaan van die deeltjies oplewer nie.[4]
Op 13 Julie 2015 is twee verskillende pentakwarke na alle waarskynlikheid ontdek in eksperimente by die Groot Hadronversneller,[5] een met ’n massa van 4 449 MeV (byna vyf keer dié van ’n proton) en een van 4 380 MeV. Hulle bestaan uit twee op-kwarke, ’n af-kwark, ’n sjarme-kwark en ’n antisjarme-kwark, wat hulle kwarkonium-pentakwarke maak.[5][6] Die resultate moet nog verder ondersoek word.
Verwysings
Sien ook
Eksterne skakel