Die Maine Coon is ’n langharige katras met ’n kenmerkende voorkoms en ’n goeie jagvermoë.
Geskiedenis
Die Maine Coon is een van die oudste natuurlike katrasse in Noord-Amerika en is oorspronklik veral in Maine aangetref[1] waar dit dié staat se amptelik kat is.
Dit is nie seker wanneer die kat in Amerika beland het nie, maar daar is verskeie teorieë. Die algemeen aanvaarde teorie is dat die Maine Coon ontstaan het ná kruisings tussen plaaslike korthaarkatte en langhaarkatte wat deur Engelse seevaarders (moontlik deur kapt. Charles Coon) of 11de-eeuseWikings na Amerika gebring is.[2][3] Die verbinding met die Wikings is vanweë die kat se ooreenkoms met die Noorse boskat.
Die kat was in die laat 19de eeu gewild op katskoue, maar sy bestaan is bedreig toe ander langhaarkatte in die 20ste eeu van oorsee na Amerika gebring is.[4]
Beskrywing
Dit is een van die grootste huiskatte en mannetjies kan tot 11 kg weeg. Die lyf is sterk en die bors breed. Die kat het ’n reghoekige lyf en lang pels. Die hare is korter op die kop en skouers en langer op die maag en sye, terwyl sommige katte ’n maanhaaragtige kraag het. Die pels het min versorging nodig. Die harige stert kan tot 36 cm lank wees[5] en loop dunner na die punt.
Maine Coons kan enige kleur hê, maar kleure wat op hibrides dui, soos sjokolade, laventel, kleurpunte en fyn strepies word nie vir skoue aanvaar nie.[6] Die algemeenste kleur is bruin met strepe.[7] Alle oogkleure word aanvaar, behalwe blou en ’n onpaar kleur by katte wat nie wit is nie.[8]
Maine Coons is bekend vir hul intelligensie[9] en sagmoedigheid.[4] Hulle bereik eers volle volwassenheid op drie tot vyf jaar, terwyl ander katte sowat ’n jaar neem.[10]
↑"Breed Information" (in Engels). Maine Coon Breeders & Fanciers Association. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 September 2019. Besoek op 26 Oktober 2008.
↑ 4,04,1"Maine Coon Synopsis" (in Engels). American Cat Fanciers Association. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Oktober 2019. Besoek op 26 Oktober 2008.
↑"Choosing a Maine Coon". PetPlace.com (in Engels). Intelligent Content Corp. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2015. Besoek op 2 November 2008.