Ds. Kruger was ’n seun van Johannes Hendrik Kruger en Johanna Maria Snyman. Sy moeder was ’n diep godsdienstige en belese vrou wat vertroud was met die werke van dr. Abraham Kuyper. Sy was ook ’n gereelde leser van Die Heraut en Stemmen des Tijds. Van haar 15 kinders het net sewe grootgeword, onder wie nog ’n seun wat predikant geword het, ds. J.H. Kruger (1878–1963). ’n Dogter en dus ’n suster van die latere ds. G.H.J. Kruger, Johanna Margaretha (1870–1943) was getroud met Chris Coetzee (1869–1934) en die moeder van die rektor van die PU vir CHO prof. J. Chris Coetzee (1893–1989). Gert Kruger se gesin het in 1895 van hul plaas, Beschuitfontein, distrik Venterstad, na Heidelberg, Tvl., verhuis. ('n Voorsaat van ds. Kruger, ook G.H.J. Kruger, was in 1860 toe hy eienaar van dié plaas was, een van die stigters van die Gereformeerde kerk Burgersdorp.) Hy het eerste skoolopleiding op Venterstad ontvang en het later na Burgersdorp gegaan waar hy die matrikulasie-eksamen afgelê het, bes moontlik aan die literariese afdeling van die Teologiese Skool Burgersdorp.
Tweede Vryheidsoorlog
Saam met (die latere prof. ds.) J.D. du Toit (Totius) het hy sy kandidaatseksamen op 17 Junie1899 afgelê, drie maande en 24 dae voor die begin van die Tweede Vryheidsoorlog op 11 Oktober daardie jaar. Weens die dreigende oorlog het hy toe nie ’n beroep ontvang nie. Toe die oorlog uitbreek was hy en prop. Du Toit in Transvaal en het dus as veldpredikers saam met die kommando's uitgetrek. Later is hy gevange geneem en na Middelburg, Kaap, gedeporteer. Daar het hy, nes ds. Willem Postma op dieselfde dorp, ’n lewensbestaan gemaak deur in ’n winkel te werk, maar kon hy ook ’n inkomste verdien deur vioolles te gee nadat hy aan die Teologiese Skool Burgersdorp leier van die "vioolband" was.
Gemeentebediening
Ná die Driejarige Oorlog het prop. Kruger ds. Martinus Postma ses maande lank in die Johannesburgse gemeente van sy kerk bygestaan. Eindelik is hy op 19 Julie1903 op Belfast deur ds. J.A. van Rooy tot herder en leraar van die kombinasie Lydenburg-Gereformeerde kerk Belfast bevestig. In 1905 is hy in die huwelik bevestig met Christina Maria Kruger, wat die Bethulie-kamp oorleef en tydens die oorlog vier weke tronkstraf in Bloemfontein uitgedien het nadat sy betrap is dat sy ’n brief van bemoediging aan die vegtende Boere geskryf het. Ten tyde van ds. Kruger se dood in 1957 het vier van sy vyf kinders nog geleef. Ds. Gerrit Kruger was die jongste.
In sy huweliksjaar, op 28 Januarie1905, is ds. Kruger as leraar van Gereformeerde kerk Barkly-Oos bevestig. Sy dienstyd tot 1925 of '26 was die langste in die eerste 100 jaar van die gemeente, gestig in 1871, se bestaan. Aangesien die ou pastorie teen dié tyd baie bouvallig was, is ’n blok van ses erwe van die owerheid teen £200 verkry en kon die leraar en sy gesin die nuwe pastorie in Maart 1909. Die koste was £1 100, net sowat £130 minder as die koste van Dordrecht se Gereformeerde kerkgebou sowat twee jaar vantevore. In 1915 is die kerkgebou opgeknap en verbeter teen ’n koste van £370, wat alles dadelik betaal is. Volgens die Kerk se Almanak vir die jaar 1907 het die gemeente Barkly-Oos in 1906 248 belydende lidmate gehad en ’n sieletal van 526.
Sy volgende gemeente het met sy bevestiging daar in 1926 as Vredefort bekendgestaan, maar dié naam is in 1941 na Parys verander nadat die swaartepunt van die gemeente algaande ná sy stigting 1872 daarheen verskuif het. Ds. Kruger het die Woord op Vredefort in die twee kerkgebou bedien, wat in 1891 opgerig is om die ou kerkgebou van 1872 te vervang nadat dit omstreeks 1888 in onbruik geword het. Op Parys het ds. Kruger sy vrou in Junie 1947 aan die dood afgestaan. In Oktober 1948 is hy weer getroud, met die weduwee Aletta Buys van Barkly-Oos, wat hom oorleef het.
Op 20 Februarie1949 het hy sê emeritaat aanvaar ná ’n 46-jarige ampstermyn. Hy het op Parys bly woon en nog tot enkele maande voor sy dood, in die algemene hospitaal in Pretoria nadat hy die week vantevore 'n ernstige operasie ondergaan het, op versoek met Woord- en Sakramentsbediening gehelp. Ook het hy op 5 Februarie1955 die hoeksteen van die ultramoderne Paryse Gereformeerde kerk, ontwerp deur die Gereformeerde argitek Johan de Ridder, gelê. Ds. J.W. Jansen van Ryssen was indertyd Parys se predikant.
Waardering
Ds. Kruger se seun, ook ds. G.H.J. Kruger, het in sy lewensberig in die GKSA se Almanak van 1958 die aandag daarop gevestig dat sy vader se gemeentes al drie min in lidmaattal was en dat dié lidmate in elke geval oor ’n uitgestrekte gebied gewoon het. So het die bediening besonderse eise aan hom gestel, maar volgens ds. Kruger jr. het sy vader "die ampswerk met die grootste getrouheid, liefde en ywer verrig".
In 1913 het ds. Kruger ook nog die lidmate van die Gereformeerde Kerk in Brits-Oos-Afrika (Kenia), in 1919 die lidmate in Suid- en Noord-Rhodesië en in 1924 dié in Portugees-Wes-Afrika (Angola) gaan bedien. In 1921 het hy die lidmate in die Boland bedien. Tydens sy verblyf op Parys het hy etlike jare lank ook nog Kroonstad, Hoopstad, Wepener, Thaba Nchu, Bloemhof en Makwassie bedien.
Buiten sy ampswerk het hy baie belanggestel in die jeug. Hy het jare lank in skoolkommissies en skoolrade gedien. Sy seun skryf: "Vir die jongmense in sy gemeentes het hy 'n besonder teer plekkie gehad. In gemeentelike samekomste, waarin veral ook die jongmense inbetrek kon word, het hy baie belang gestel. By sulke geleenthede het hy gewoonlik baie laat sing. Omdat hy 'n besondere liefhebber van goeie musiek was, moes die gemeentelike sang ook so goed en mooi as moontlik wees."
Ds. Kruger het ononderbroke vanaf 1912-1938 as kurator van die Teologiese Skool gedien en vanaf 1942-1952 as lid van die raad van die PU vir CHO. Ook in die openbare lewe het hy groot agting weggedra. Gevolglik het hy in verskillende openbare liggame gedien. Sy seun skryf: "Die Geloftefees-saal op Parys, wat in 1932 onder sy leiding opgerig is, is bewys van sy ywer en liefde in die volkslewe."
Ds. Kruger jr. skryf voorts: "Uit bostaande blyk dit baie duidelik dat hierdie dienskneg van die Here hom ten volle geleen het vir die saak van die Here. Beheers deur die liefde en gesindheid van Christus het hy sy gawes op elke terrein aangewend. Elkeen wat met hom in aanraking gekom het, is getref deur sy nederige en vriendelike geaardheid. As predikant was hy toeganklik vir almal. Ook het hy 'n baie goeie humor gehad. Met die bedankings aan die einde van die Algemene Sinode op Bethulie in 1936, het hy die perskommissie en ook die koster bedank. Die koster daar was 'n flukse jong broeder so in die twintiger jare. Toe ds. Kruger hom bedank, het hy droogweg opgemerk dat dit die mooiste koster is wat hy nog gesien het.
"Saam met ander predikante van wie die meeste al ontslaap het, het hierdie waardige en eerbiedwekkende figuur in ons kerklike lewe, die kerk in 'n besondere tydperk, dikwels van worsteljare, onder die seën van die Here, opgebou. Sy nagedagtenis onder ons sal in dankbare herinnering bly. Ons eresaluut aan 'n moedige stryder in die koninkryk van die Here."
Galery
Dr. Johan van Ryssen loop vooraan tydens ds. Kruger se begrafnis op Parys. Ds. Van Ryssen se vrou, Friedie, was 'n dogter van ds. Kruger se broer die Postmasburgse skoolhoof Chris Kruger.
Die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk in die Kaapprovinsie, gehou in 1911 te Barkly-Oos: Eerste ry: Izak van Heerden, onbekend (of andersom), ds J.G.H. van der Walt, ds. G.H.J. Kruger, ds. Dirk du Plessis, onbekend. Tweede ry: Ds. T. Hamersma, ds. P.W. Bingle, ds. W.J. de Klerk, ds. J.H. Kruger, ds. W.J. Snyman, onbekend, ds. P.C. Snyman. Derde ry: Nick van der Walt, ds. Dirk Postma, onder andere (nie in regte volgorde) I.J. Aucamp, D. Lessing, M. Neser. Vierde ry: G.C. Coetsee (onbekend watter plek).
Algemene Vergadering gehou te Aliwal-Noord, 1917, geneem in ’n tuin op die dorp. Voor: Onbekend, prop. C.W.M. du Toit, oudl. J.L. Hatting, onbekend (of andersom), ds. J.H. Kruger, ds. P.W. Bingle, ds. F.P.J. Snyman. Tweede ry: N.F. Alberts, J.H. Kruger en twee onbekende kerkraadslede (volgorde van dié vir onbekend), ds. J.G.H. van der Walt, ds. G.H.J. Kruger (res onbekend). Derde en vierde ry (saam gereken): (vierde van links) ds. Derk Rumpff, (sewende van links) ds. Dirk Postma en sy vader, Martinus Postma, (heel regs) Taetse Hamersma.
Tydens die Algemene Sinode van 1936 is die Afrikaanse Psalmberyming in ontvangs geneem. Met die bedankings aan die einde van die sinode het ds. Kruger die perskommissie en ook die koster bedank. Die koster was 'n flukse jong broeder van in die 20 jaar. Toe ds. Kruger hom bedank, het hy droogweg opgemerk dat dit die mooiste koster is wat hy nog gesien het.