Die provinsie Gansu bestaan net sedert die Song-dinastie, toe dit gevorm is uit twee prefekture van die Sui en Tang-dynastieë. Gan (in die omgewing rondom Zhangyi) en Su (naby Jiuquan). As gevolg van sy ligging aan die Syroete, was Gansu 'n provinsie van groot ekonomiese belang, en dit was ook die plek vir kulturele verspreiding. Die westelike einde van die Groot Muur van China is in die provinsie by Jiayuguan.
In die Qin-dinastie was die gebied rondom Tianshui (天水) in die suidooste deel van die destydse Chinese Ryk.
Die provinsie is in 2010 deur groot vloede en grondverskuiwings getref, waar meer as 1 500 mense gesterf het.
Geografie
Die provinsie Gansu beslaan 'n oppervlakte van 454,000 km² en die grootste deel van die land lê op meer as 1000 meter bo seespieël. Dit lê tussen die Hoogland van Tibet, Binne-Mongolië en die Loess-plato. In die uiterste noordweste grens dit aan Mongolië. Die Geelrivier (Huang He) vloei deur die suidelike deel van die provinsie. Die geografiese sentrum van China is in die provinsie, aangedui deur 'n monument op die koördinate 35.33 ° N en 103.23 ° E. Die provinsie is aangrensend aan 6 ander provinsies: Shaanxi, Ningxia, Binne Mongolië, Xinjiang, Qinghai en Sichuan.
Die meeste van die water in die Geelrivier kom ook van die provinsie af en vloei ook deur Lanzhou, die provinsiale hoofstad. Die landskap in Gansu is baie bergagtig in die suide en plat in die noorde. Die berge in die suide van die provinsie is deel van die Qilian Shan berge. Die hoogste punt in die provinsie lê op 5,547 meter en is die top van die Qilian Shan (Qilian berg).
Demografie
Gansu was oorspronklik die mees westelike Chinese provinsie van China. As gevolg van sy ligging aan die grense van die ryk woon daar baie ander volke en minderhede. Dit word weerspieël in die outonome prefekture wat nou in die provinsie is. In die uiterste suidweste lê die outonome Tibettaanse prefektuur Gannan en noord van dit is die outonome Hui-prefektuur Linxia. Na die Han met 91% die Hui (5%), Tibettane (2%) en Dongxiang (2%) vorm die grootste bevolkingsgroepe. Daar is ook Salar, 'n gemengde Turks-Mongoolse volk wat 'n Ogoesies-taal praat, wat baie meer verwant is aan Turks uit Turkye as die taal van die Oeigoere, wat meer in China voorkom.
Ekonomie
Landbouproduksie in Gansu sluit in katoen, lynolie, mielies, spanspekke (soos die heuningwatlemoen, wat plaaslik bekend staan as die Bailan-spanspek of "Wallace" as gevolg van sy bekendstelling deur die Amerikaanse vise-president Henry A. Wallace), millet en koring. Gansu is bekend as 'n bron vir wilde medisinale kruie wat in Chinese medisyne gebruik word. Besoedeling deur swaar metale, soos kadmium in besproeiingswater, het egter tot gevolg gehad dat baie akkers landbougrond vergiftig is. Die omvang en aard van die swaarmetale besoedeling word beskou as 'n staatsgeheim.