Die westelike deel van die Noordelike Waterslang, met Alphard as die helderste ster naby die middel.
Die ster se Bayer-naam is "Alpha Hydrae". Die tradisionele naam, "Alphard", kom van die Arabiese الفرد al-fard, "die alleenstaande een", omdat daar nie ander helder sterre in sy omgewing is nie. Die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) het die naam Alphard in Julie 2016 aan die ster toegeken.[10][11]
Eienskappe
Alphard se massa is drie keer dié van die Son. Dit is sowat 420 miljoen jaar oud, het wegbeweeg van die hoofreeks en ’n reusester geword met ’n sterreklassifikasie van K3 en ligsterkteklas tussen II en III.[3] Sy hoekdeursnee is sowat 9,09 ± 0,09milliboogsekondes, wat net deur Betelgeuse en R Doradus oortref word.[12] Dit het uigesit tot 50 keer die radius van die Son.[3]
Alphard se spektrum toon ’n effense oorvloed van barium, ’n element wat normaalweg vervaardig word deur die s-proses (stadige neutronvangsproses) van nukleosintese. ’n Bariumster behoort gewoonlik tot ’n dubbelsterstelsel en die voorkoms van barium word verduidelik deur massaoordrag deur ’n metgesel-witdwerg.[13]
Metings het wisselings in die ster se radiale snelheid en spektraallynprofiel getoon. Die wisselings duur van ’n paar uur tot verskeie dae. Die korttermynwisselings is waarskynlik die resultaat van pulse, soortgelyk aan dié van die Son. ’n Verband tussen die wisselings in die asimmetrie van die spektraallynprofiel en die radiale snelheid is ook gevind. Die multiperiodewisselings maak HD 81797 (Alphard) ’n voorwerp waarin groot belangstelling heers vir asteroseismologiese ondersoeke.[14]
↑Setiawan, J. et al. (Julie 2004), "Precise radial velocity measurements of G and K giants. Multiple systems and variability trend along the Red Giant Branch", Astronomy and Astrophysics421: 241–254, doi:10.1051/0004-6361:20041042-1, Bibcode: 2004A&A...421..241S
↑"Alphard". SIMBAD (in Engels). Centre de Données astronomiques de Strasbourg. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Junie 2019. Besoek op 9 Oktober 2009.
↑Kunitzsch, Paul; Smart, Tim (2006). A Dictionary of Modern star Names: A Short Guide to 254 Star Names and Their Derivations (2de hersiene uitg.). Cambridge, Massachusetts: Sky Pub. ISBN978-1-931559-44-7.