Marthinus Theunis "Tjol" Lategan (29 September 1925 – 8 Maart 2015) was 'n Suid-Afrikaanse Springbokrugbyspeler. Saam met Ryk van Schoor het hy een van die groot senterpare in na-oorlogse rugby geword. Lategan het klubrugby vir Universiteit Stellenbosch en provinsiale rugby vir die Westelike Provinsie en Boland gespeel.
Springbokkleure
Hy is tussen 1949 en 1953 elf keer vir Suid-Afrika gekies, aanvanklik teen die 1949 inkomende Nieu-Seelandse toerspan. Hy is hierna vir die Springboktoer na Groot-Brittanje, Ierland en Frankryk in 1951-1952 gekies. Die toerspan word beskou as een van dié grootste Suid-Afrikaanse spanne; hulle wen 30 van hul 31 wedstryde oorsee, insluitend al vyf toetse.