Tilana Hanekom (1921-2002) was 'n Suid-Afrikaanse aktrise. Sy is veral bekend vir haar rolle in Elsa se Geheim (1979), Lig van ’n Eeu (1942) en Eendag vir Altyd (1985). Sy is gereeld op TV gesien in onder meer die Prins van Pretoria, Hoekie vir eensames en Agter Elke Man. Haar laaste verskyning op die verhoog was in 1994 in Die drie susters van Tsjechof. Daarna het sy en haar man bekend geword as die ouma en oupa in Sasol se Ama-glug-glug-advertensie.[1]
Biografie
Hester Mathilda Hanekom is op 24 Oktober1921 gebore, as die dogter van Hendrik Andries Hanekom en Matilda Hanekom (de Beer). Haar ouers het die eerste Afrikaanse beroepstoneelgeselskap gestig, en sy het saam het hulle die land deur getoer. Wena Naudé het haar aanvanklik onderrig. Sy is op 9 vir die eerste keer skool toe, maar kon graad 1 en graad 2 oorslaan om direk in graad 3 te begin. Sy het aan die Hoër Meisieskool Oranje gematrikuleer.
Sy raak verlief op die akteur Eghard van der Hoven wat by haar ouers se toneelgroep gewerk het. Eghard en Tilana het later saam met Danie Smuts, Daan Retief en Hentie van Rooyen hul eie geselskap gestig. In 1949 het hulle genoegsame geldelike sukses behaal (met 'n stuk genaamd Trou is nie perdekoop nie) om in die huwelik te kon tree. Die geselskap het tot in 1958 landwyd vol sale getrek met aanbiedings soos Ek onthou vir Mamma, Só praat die ou rivier en Scapino.
Hanekom is op 22 Februarie2002 op 80-jarige ouderdom in haar slaap oorlede. Sy het twee kinders en vyf kleinkinders agtergelaat.[2]