Twee hoof-variëteite word gekweek: Camellia sinensis var. sinensis vir Chinese tee, en Camellia sinensis var. assamica vir Indiese tees.[1] Wit-, geel-, groen-, woeloeng- en swarttee word almal van een van dié variëteite gemaak, maar verskillende prosesse word gebruik om verskillende vlakke van oksidasie te verkry. Dit verskil van kruietee, wat van kruie, speserye of ander plantmateriaal gemaak word.
Naam
Die naam Camellia kom van die verlatynsde naam van eerw. Georg Kamel,[2] ’n Tsjeggiesgebore Jesuïtiese apteker en sendeling. Carl Linnaeus het sy naam in 1753 gekies vir die genus ter ere van Kamel se bydrae tot plantkunde,[3] hoewel Kamel nie die plant of enige ander Camellia-plant ontdek het nie. Linnaeus het ook nie dié plant as ’n Camellia beskou nie, maar as ’n Thea.[3]
Die plantkundige Robert Sweet het alle spesies van die genus Thea in 1818 na Camellia geskuif.[4] Die naam sinensis beteken "van China" in Latyn.
Vier variëteite van Camellia sinensis word erken.[5] Van hulle word C. sinensis var. sinensis en C. sinensis var. assamica meestal gebruik om tee van te maak.
Die saad van Camellia sinensis en Camellia oleifera kan gepers word om tee-olie te vervaardig – ’n soeterige geurmiddel en kookolie, wat nie verwar moet word met teeboomolie nie. Laasgenoemde is ’n essensiële olie wat vir medisinale en kosmetiese doeleindes gebruik en van die blare van ’n ander plant gemaak word.
Die blare van Camellia sinensis is 4–15 cm lank en 2–5 cm breed. Vars blare bevat sowat 4% kafeïen.[8] Die jong, liggroen blare word veral vir tee geoes. Ouer blare is donkerder groen. Blare van verskillende ouderdomme sorg vir verskillende gehaltes tee, aangesien hul chemiese samestellings verskil. Die punt (knop) en eerste twee tot drie blare word gewoonlik geoes vir die vervaardiging van tee. Dit word elke week of twee met die hand gepluk.
↑Stafleu, FA; Cowan, RS (1976–1988). Taxonomic literature: A selective guide to botanical publications and collections with dates, commentaries and types (2de uitg.). Utrecht: Bohn, Scheltema and Holkema.