Hough is in Heswall (destyds in Cheshire) gebore, en word groot in Thelwall, waar hy klavierlesse begin neem op die jeugdige ouderdom van vyf. Sy vader was tot sy afsterwe op 54 jaar 'n tegniese verteenwoordiger vir die "British Steel Corporation" gewees .[3]Hough kon reeds op 'n vroeë stadium van sy lewe omtrent honderd kinderliedjies memoriseer. Sy ouers het uiteindelik na 'n groot gekerm en geneul daartoe ingestem om 'n tweedehandse klavier teen die prys van £5 van 'n plaaslike antiekeware winkel vir die huis te koop.[4] Hy het op die ouderdom van twaalf jaar 'n senuwee ineenstorting gehad, wat deur 'n rooftog teweeggebring is. Die gevolg was dat hy byna 'n jaar uit die skool weggebly het. [4] Hy het by die Chetham's School of Music studeer, welke hy later as "nie 'n wonderlike plek terwyl ek daar was nie" beskryf het[4], en by die Koninklike Noordelike Kollege van Musiek.[5] In 1978 was hy 'n finalis tydens die BBC Young Musician of the Year-kompetisie. Hy het die klavierafdeling daarvan gewen. Hy het in 1982 die Terence Judd-prys in Engeland gewen. In 1983 het hy eersteplek behaal tydens die Naumburg Internasionale Klavierkompetisie in New York Stad.
Hough[6] het 'n meestersgraad van die Juilliard Skool verwerf, waar hy bygestaan was deur 'n beurs, te wete die heel eerste Julius Isserlis-beurs vir Oorsese Studies van die Koninklike Filharmoniese Genootskap. Hy het saam met Heather Slade-Lipkin, Gordon Green, en Derrick Wyndham studeer. Hy is ook 'n komponis, en sluit dikwels sy eie werke in sy uitvoerings in. Hy het meer as dertig gepubliseerde stukke geskryf. [4] Die eerste uitvoering van sy tjelloconcerto - wat vir Steven Isserlis geskryf is - het in Maart 2007 plaasgevind en in die somer van dieselfde jaar het Westminster Abdy en Westminster Katedraal misse wat hy vir hul geskryf het uitgevoer.[7] In 2009 was die eerste uitvoering van sy trio vir pikolo, kontra-fagot en klavier ('Was mit den Traenen geschieht') by die Philharmonie in Berlyn deur lede van die Berlynse Filharmoniese Orkes gegee. Sy liederesiklusse 'Herbstlieder' (2007) en 'Other Love Songs' (2010) en 'Dappled Things' (2016) was die eerste keer deur lede van die The Prince Consort uitgevoer. Sy Sonate vir Klavier (broken branches) was die eerste keer deur homself tydens 'n geleentheid by Wigmore Hall in 2011 uitgevoer. In 2012 het die Indianapolis Simfonieorkes en Simfoniese koor die eerste uitvoering van die georkestreerde weergawe van sy Missa Mirabilis gegee. Sy werk was in 2015 deur die Colorado Simfonieorkes en Andrew Litton vir Hyperion Records gespeel en opgeneem.[8]
Hy is 'n erelid van die Koninklike Akademie van Musiek in Londen waar hy 'n besoekende professor is, sowel as 'n genoot van die Koninklike Noordelike Kollege van Musiek in Manchester - waar hy die Internasionale Stoel vir klavierstudies beklee - en 'n ere-genoot van die Guildhall Skool van Musiek en Drama. In 2011 het hy 'n eredoktoraat van die Universiteit van Liverpool ontvang.
Hough het in 2001 die eerste uitvoerder van klassieke musiek geword om 'n MacArthur Fellowship te ontvang. Sodoende het hy by die uitgelese geselskap van prominente skrywers en wetenskaplikes aangesluit wat wesentlike bydraes in hul onderskeie velde gemaak het. Hy was in 2009 deur The Economist en Intelligent Life tydskrifte as een van 20 lewende veelweters aangewys. In 2010 was hy as "Instrumentspeler van die Jaar" tydens die gesaghebbende Royal Philharmonic Society Music Awards gekies. Hy is 'n beskermheer van die liefdadigheidsprojek, The Nightingale Project , wat musiek en kuns na hospitale neem,[9] en van Musiek in Gevangenisse (Irene Taylor Trust).[10] Hy was in 2014 as 'n kommandeur van die Orde van die Britse ryk aangestel in die nuwejaar-eerbewyse vir sy dienste aan musiek.[11] In 2018 is hy as erelid van die Koninklike Filharmoniese Genootskap benoem.
Hough was in Oktober 2016 die gasdirigent vir BBC Radio 4 se Desert Island Discs program gewees. Sy keuses was Cortot se opname van die Prélude No. 17 in A-mol deur Chopin, Rachmaninoff se opname van die Liebesleid deur Kreisler, Stairway to Heaven deur Led Zeppelin, die Kyrie eleison van die Mis in B-mineur deur Bach, die Liriese Suite vir Strykkwartet (derde beweging) deur Berg, die Sonate vir Tjello en klavier Linkerhand ("Les adieux") deur Stephen Hough, en Bird Songs at Eventide deur Eric Coates. Sy gunsteling was Proficiscere, anima Christiana (Go Forth) van The Dream of Gerontius deur Elgar. Sy boekkeuse was 'n tweetalige uitgawe van Proust se À la recherche du temps perdu en sy weelde-item was 'n panamahoed. Hy het 'n spesiale versoek vir 'n afskrif van die Tyndale Bybel gemaak.[4]
Hy het as solis op die mees luisterryke verhoë van die wêreld opgetree insluitende Carnegie Hall se Stern Ouditorium, Chicago se Symphony Hall, Londen se Royal Festival Hall en die hoof verhoog van die Concertgebouw. Hy het by feeste van regoor die wêreld verskyn soos Verbier, Salzburg, Festival de La Roque-d'Anthéron, Edinburgh, Aldeburgh, die BBC Proms, Mostly Mozart (New York), Sapporo, Ravinia, Blossom, Tanglewood, Aspen, Hollywood Bowl en Saratoga.
Hy het as kamermusiek musikant saam met Steven Isserlis, Joshua Bell, die klarinetspeler Michael Collins en Tabea Zimmermann opgetree, sowel as saam met die Juilliard Strykkwartet, die Emerson Strykkwartet, die Takács Kwartet en die Berlynse Filharmoniese Orkes Blaasinstrument Kwintet.
Opnames
Hough het reeds meer as vyftig CDs opgeneem. Een van sy mees noemenswaardige opnames is 'n stel van die vier Rachmaninoff klavierconcertos en die Rapsodie op 'n Tema van Paganini wat gedurende lewendige opname-sessies met die Dallas Simfonieorkes onder leiding van Andrew Litton opgeneem is. Die opnames is al vergelyk met die opnames wat deur die komponis self gemaak was. Die opnames het aan Hough sy sewende Gramophone toekenning, sowel as die Classical BRIT Critics Award besorg.
Sy opname van die vyf Saint-Saëns concertos het in 2001 die Gramophone Plaat van die Jaar toekenning gewen en was later gekies as die Gold Disc, "winner of winners" tydens 'n peiling wat dertig jaar van die toekenning gevier het.[12]
Sy opname van die Volledige Chopin Walse,[13] het in 2011 die Diapason d'Or de l'Année gewen. Hy is ook bekend daarvoor dat hy dikwels voorspraak maak vir minder bekende komponiste wie se werke oor die algemeen beskou word as om buite die standaard repertoire te staan, soos bv. Johann Nepomuk Hummel, Xaver Scharwenka, York Bowen, en Federico Mompou.
Sy eie komposisies kan gehoor word op 'n CD van BIS Records genaamd Broken Branches,[14] asook op die Prince Consort se CD Other Love Songs op Linn Records. Sy tweede Klaviersonate (notturno luminoso) verskyn op sy CD In The Night, en sy tjellosonate op 'n plaat saam met Steven Isserlis. Die Colorado Simfonieorkes het sy Missa Mirablis opgeneem, onder leiding van Andrew Litton.
In Julie 2017 was 'n CD op Pentatone-Oxingale Records vrygestel vir die eerste opening van die Tippet Rise-fees, met 'n uitvoering deur o.a. Hough, Christopher O’Riley, en Matt Haimovitz.
Uitgesoekte diskografie
Hummel: klavierconcerto No. 3 in B mineur, Op.89; Klavierconcerto No. 2 in A mineur, Op.85: Engelse Kamerorkes, (Chandos, 1987, CHAN 8507)
My Favorite Things: Virtuoso Encores (MusicMasters, 1988; her-uitgereik deur Virgin Classics as The Piano Album 1, 1993, VC7595092)
The Piano Album 2 (Virgin Classics, 1993, VC7593042)
Xaver Scharwenka: Klavierconcerto No. 4 in F mineur en Emil von Sauer: Klavierconcerto No.1 in E mineur Stad Birmingham Simfonieorkes gedirigeer deur Lawrence Foster, Hyperion, 1994 CDA66790)