Springfield is 'n stad in die suidweste van Massachusetts, geleë langs die Connecticut-rivier, ongeveer 147 km suidwes van Boston en 5 km noord van die grens met Connecticut. Springfield dien as die administratiewe setel van die distrik Hampden (Hampden County). Tussen 1794 en 1968 was Springfield die setel van 'n nasionale wapenfabriek waar onder meer kleiner vuurwapens en gewere (die sogenaamde Springfield-modelreeks en enkele halfoutomatiese gewere soos die M1 Garand) vervaardig is. Die aanleg, wat in die wapenbehoeftes van die Amerikaanse strydmagte voorsien het, is later omgeskep tot 'n museumkompleks, die Springfield Armory National Historic Site.
Drie van Springfield se byname verwys na belangrike uitvindings wat hier gemaak is asook wetenskaplike prestasies. The City of Firsts sinspeel op innovasies soos die eerste uitgawe van Charles en George Merriam se Amerikaanse woordeboek, The American Dictionary of the English Language, wat in 1847 gepubliseer is, die eerste Amerikaanse gasaangedrewe voertuig en die eerste meganiese draaibank wat vir die vervaardiging van geweerlope ontwikkel is. The City of Homes verwys na Springfield se Victoriaanse residensiële boukuns, terwyl die bynaam Hoop City aan Springfield as bakermat van basketbal gegee is – 'n nuwe sport wat hier in 1891 deur James Naismith uitgevind is.
Een van Springfield se bekendste boorlinge is die kinderboekskrywer en -illustreerder Theodore Seuss Geisel (1904−1991), beter bekend as Dr. Seuss, wat sukses behaal met werke soos The Cat in the Hat.
Geskiedenis
Die eerste westerse mense het hier gearriveer in die lente van 1636 onder leiding van William Pynchon.[1] Uit vrees vir die Indiane het hulle later na die oostekant van die Connecticut-rivier getrek wat minder vrugbaar is. In 1640 was die nedersetting se naam verander van Agawam na Springfield, Pynchon se geboortedorp in Engeland. In 1641 is dit amptelik as 'n dorp bevestig. Pynchon was die leier van die gemeenskap tot in 1652, hy ondervind egter weerstand van die Massachusetts Algemenehof oor dinge wat hy geskryf het en word ontslaan as burgemeester. Hy vertrek na Engeland.
Gedurende die King Philips's War in 1675 vernietig die Agawam Indiane 'n groot gedeelte van die nedersetting; dit was 'n verrassing vir die gemeenskap aangesien die Agawam vriendelik was tot op daardie stadium.