Paarlberg

Paarlberg

Paarlberg is 'n eilandberg in die Boland, geleë tussen Wellington, Simondium, Klapmuts, Windmeul, die Slot van die Paarl en oos teenaan die Paarl.

Hoogte

Die berg styg tot 650 m bo seespieël. Op 'n helder dag is Tafelberg vanaf Paarlberg sigbaar.

Die berg

Bo-op die berg is die Afrikaanse Taalmonument, sowel as die drie grootste bekende granietkoepels in Suid-Afrika, bekend as die Paarlrots, Gordonrots en Bretagnerots (soms Britanniarots). Die koepels is nagenoeg by 33°44′33″S 18°56′8″O / 33.74250°S 18.93556°O / -33.74250; 18.93556. Hierdie koepels is suidoos van die Nantesdam en hulle ouderdom word beraam op 500 miljoen jaar. 'n Pad op die berg dra die naam van Jan Phillips, 'n eertydse wabouer van die dorp wat hom beywer het vir die aanlê van die pad.

Op die berg is die Meulwater botaniese tuin. Voorheen is die berg hooggeag vir die verskeidenheid inheemse flora fauna wat hier aangetref word en daarom het verskeie wetenskaplikes, o.a. Charles Darwin, dit besoek. Die berg is in 1963 tot gedenkwaardigheid verklaar.

Geskiedenis

Onder die Khoikhoi was die berg bekend as die Skilpadberg. Op 22 Oktober 1657 het 'n geselskap van VOC-amptenare onder leiding van fiskaal Abraham Gabbema (* Den Haag, ca 1630 - † na 1668) die omgewing verken en twee koepels die name Paarlberg en Diamantberg gegee omdat die koppe so mooi geskitter het in die sonlig.

Gordonrots het 'n diep skeur naby die bopunt. Na bewering het 'n seun met die van Gordon daarin geval en homself noodlottig beseer. 'n Ou seinkanon van die VOC op Paarlrots is met die viering van koningin Victoria se jubileumfees in 1897 en weer met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 afgevuur.

Let Wel

Gordonsbaai is vernoem na Robert Jacob Gordon en Gordonia na Gordon Sprigg.

Bronnelys

  • Green, Lawrence G.: In the land of afternoon. Kaapstad: Howard B. Timmins, 1949

33°44′33″S 18°56′8″O / 33.74250°S 18.93556°O / -33.74250; 18.93556