Lailat al-'Kadr (Arabies: لیلة القدر, letterlik: "Nag van die Lotsbestemming" of "Nag van Krag") is in Islam 'n nag in die maand Ramadan toe die eerste soera van die Koran deur Gabriël aan Mohammed geopenbaar is. Die presiese datum van dié nag word nie in die Koran genoem nie[1][2] en kan net tot die onewe nagte van die laaste tien dae in Ramadan beperk word. Volgens die Islamitiese kalender begin 'n dag in ooreenstemming met die Skeppingsverhaal met sononder. Dit kan net een van die nagte van 21, 23, 25, 27 of 29 Ramadan wees. Oor eeue heen het verskeie tradisies rondom die presiese datum ontwikkel en veral die twee groot strominge van Islam, Soenniete en Sjiiete, verskil van mekaar.
Datums
Aangesien maande in die Islamitiese kalender altyd volgens die maan bereken word, wissel die datum van hierdie nag volgens die Gregoriaanse kalender.
Soennitiese Islam
Soenniete herdenk Lailat al-'Kadr op 27 Ramadan, maar die werklike viering begin altyd met sonsondergang op die vooraand (omdat 'n dag met sononder begin).
Sjiiete herdenk Lailat al-'Kadr op 23 Ramadan, maar die werklike viering begin met sonsondergang op die vooraand. Volgens die Sjiiete val 19 Ramadan saam met die aanval op Ali in die Mihrab, terwyl hy besig was met gebed in die Groot Moskee van Koefa, Irak. Hy is op 21 Ramadan oorlede.