Die kwikstertjies (ook kwikkies, wipstertjies of akkermannetjies[1] genoem) is klein Ouwêreldsesangvoëls in die familie Motacillidae. Die dosyn of wat spesies van genus Motacilla is die enigste verteenwoordigers van die subfamilie Motacillinae,[2] en blyk hul oorsprong in die Palearktiese gebied te hê.[3] Die Latynse naam vir ‘n kwikstert, motacilla, is afgelei van muttex, ‘n voëlsoort wat deur Hesychius van Alexandrië (Grieks: Ἡσύχιος ὁ Ἀλεξανδρεύς) vermeld is.[4]
Kenmerke
Kwiksterte is terrestriële voëls van hoofsaaklik binnelandse waterryke habitatte. Die Kaapse kwikkie toon egter ‘n wye habitat-toleransie en word ook aan enige rotsagtige of sanderige seestrande gevind, benewens verskillende gemodifiseerde habitatte soos parke, sportvelde, tuine en rioolwerke.[5][6] Kwiksterte het ‘n sierlike bouvorm, en hul lang dun sterte word konstant op en af gedu.[7] Sommige spesies is matig tot besonder gregaries buite die broeiseisoen, en enkeles migreer. In Kenia is ‘n migrasiespoed van 46-48 km per uur by die geelkwikkie gemeet.[8] Hul kleursig is goed-ontwikkeld met tot 120 000 konusselle per mm2 wat in die retina van die geelkwikkie aangeteken is (vergeleke met sowat 10 000 by die mens).[8] Hierdeur is hulle goed aangepas by helderverligte omgewings, en kan hul omgewing in detail waarneem.[9]
Spesies
Die genus van kwikstertjies, Motacilla, omvat 12 spesies,[10] of 13 as die São Tomé-kortstertjie (Amaurocichla bocagii) bygereken word: