Johan Allers

Johan Allers saam met oud-President Nelson Mandela in Geneve, Switserland

Johan Allers (gebore 9 Mei 1957) is 'n afgetrede Suid-Afrikaanse uitsaaijoernalis.

Gedurende die laat tagtiger en vroeë negentigerjare was Johan Allers bekend as die SAUK/SABC se "man in die buiteland".[1] As radio- en televisie programmaker en nuusman verskyn hy vanuit meer as 50 lande en dosyne stede vir byna 10 jaar lank weekliks op die televisieskerms van miljoene Suid Afrikaners. Tussen 1984 en 1995 is Johan Allers ook op 'n daaglikse basis gehoor op die gewilde radionuusprogramme Monitor en Spitstyd en het hy 'n weeklikse televisieprogram op die ewe gewilde Goeie Môre Suid Afrika-televisieprogram (GMSA) aangebied. Johan Allers was verantwoordelik vir die vervaardiging (en in sommige gevalle aanbieding ) van duisende ure se televisieprogramme, televisietydskrifinsetsels en nuusitems. Hy is waarskynlik die eerste (en enigste) Suid-Afrikaanse televisievervaardiger en -aanbieder wat gereeld van "agter die ystergordyn" in verskeie vorige kommunistiese lande gewerk het. In die laat tagtigerjare vervaardig hy dokumentêre programme soos Die Winter van Perestroika in Rusland en "Die kinders van die diktator Nicolae Ceaușescu" in Roemenië. Hy het ook berig oor die historiese ineenstorting van die Berlynse Muur, die eenwording van Oos- en Wes-Duitsland, die ineenstorting van die Sowjetunie, die splitsing van Tsjeggo-Slowakye en die Kosovo-oorlog. In 1994 het Johan Allers vanuit Europa verslag gedoen oor die demokratisering van Suid Afrika en het hy talle onderhoude met lede van die nuwe Suid Afrikaanse politieke toneel gevoer, waaronder die eerste drie post-apartheid presidente, Mandela, Mbeki en Zuma.[1]

Naas byna alle belangrike politieke en sosiale persoonlikhede uit die post-apartheidera in Suid Afrika, voer Allers ook onderhoude met verskeie belangrike internasionale politieke leiers waaronder twee vorige sekretarisse-generaal van die Verenigde Nasies: Boutros Boutros-Ghali en Kofi Annan, asook vier Nobel-vredespryswenners, Nelson Mandela, F. W. de Klerk, Desmond Tutu en die voormalige Finse president Martti Ahtisaari, politieke leiers, waaronder Mary Robinson (President van Ierland), Tony Blair (Britse Premier), Ruud Lubbers en Wim Kok (beide Nederlandse premiers).

Johan Allers is al vroeg in sy loopbaan beloon met 'n aantal benoemings vir gesogte televisietoekennings[2] waaronder die ARTES-toekenning in 1985 en die Star Tonight Award for Investigative Journalism in 1992. Hy vervaardig ook twee KykNET-reekse, Trippe Trappe Trone saam met Amanda Strydom en [3] saam met Valiant Swart.[4]

Johan Allers is afgetree en woon in Amsterdam, Nederland.

Verwysings