Steytler wen in 1953 met 'n meerderheid van 1 492 stemme teen C.G. Vorster, 'n Nasionalis in die destydse veilige Verenigde Party-setel Queenstown. 'n Buitengewone hoë stempersentasie van 96,2% in 1958 kos die V.P. amper die setel toe Steytler met slegs 13 stemme wen teen die Nasionale Party se H.H. Smit. In die volkstemming van 1960 oor republiekwording is die uitslag eweneens feitlik gelykop toe 5 378 kiesers teen die republiek stem en 5 257 daarvoor. Queenstown teken weer 'n baie hoë stempersentasie van 95,8% aan. In die verkiesing van die volgende jaar wen die Nasionale Party die eerste keer in Queenstown toe J.J. Loots 369 stemme meer as die V.P. se C.J.S. Wainwright kry. Omdat Queenstown toe so gelykop was, het Steytler in daardie verkiesing in Port Elizabeth-Suid vir die Progressiewe Party gestaan en met 2 730 stemme teen die V.P. se R.P. Plewman verloor. Hy is nooit weer tot die parlement verkies nie.
Steytler het die partyleier van die P.P. geword op die stigtingskongres op 13 November1959 en dit gebly tot in Desember 1970, maar was baie minder sigbaar as Helen Suzman, die party se enigste Parlementslid van die verkiesing op 18 Oktober 1961 tot en met die verkiesing van 1974, toe vyf ander L.P.'s ook verkies is. 'n Sesde lid is kort daarna in die tussenverkiesing in Pinelands verkies.
Steytler is eers deur Harry Lawrence, voormalige kabinetsminister en die mees senior V.P.-lid wat die party in 1959 verlaat het, opgevolg as tydelike leier, waarna Colin Eglin leier geword het in Februarie 1971.
Bronne
Amptelike Jaarboek van die Republiek van Suid-Afrika 1983. 1983. Johannesburg: Chris van Rensburgpublikasies.
Schoeman, B.M. 1977. Parlementêre verkiesings in Suid-Afrika 1910-1976. Pretoria: Aktuele Publikasies.