HD 140283, nieamptelik bekend as die Metusalag-ster,[5] is ’n metaalarmsubreusester sowat 190 ligjare van die Aarde af in die sterrebeeldWeegskaal.[3] Sy skynbare magnitude is 7,205.[3] Die ster is langer as ’n eeu aan sterrekundiges bekend as ’n ster met ’n hoë snelheid, en ’n vroeë spektroskopiese ontleding deur Chamberlain en Aller het gewys dit het ’n heelwat laer metaalinhoud as die Son.[6] Dit is een van die naaste populasie II-sterre aan ons.
Ouderdom en belangrikheid
Omdat HD 140283 nie op die hoofreeks lê en ook nie ’n rooireus is nie, kan sy posisie op die Hertzsprung-Russell-diagram vertolk word met teoretiese modelle van ster-evolusie om sy ouderdom af te lei. Dit is seldsaam om die ligsterkte, oppervlaktemperatuur en samestelling van ’n ster wat nie deel van ’n sterreswerm is nie, presies genoeg te ken om ’n naby-waarde van sy ouderdom te bepaal; weens hul relatiewe skaarste geld dit nog meer vir ’n populasie II-ster soos HD 140283. In ’n onlangse studie[7][8] met die Hubble-ruimteteleskoop is die presiese parallaks (en dus afstand en ligsterkte) van die ster gemeet.[3] Daarmee is sy ouderdom geraam op 14,46 ± 0,8 miljard jaar.[3] Hierdie waarde is onseker en kan teenstrydig wees met die geraamde ouderdom van 13,8 miljard jaar van die heelal.[3][9] Die ster moes kort ná die Groot Knal gevorm het[3] en is een van die oudste sterre bekend.[10]
Studies van die ster help sterrekundiges ook die heelal se vroeë geskiedenis verstaan. Sterre met ’n lae metaalinhoud (maar nie nul nie) soos HD 140283 dui aan die ster kom uit die tweede generasie sterre. Daar word geglo hul inhoud van swaar elemente kom van ware metaallose sterre (populasie III-sterre), waarvan nog geen geïdentifiseer is nie.[11] Die eerste sterre het vermoedelik ’n paar honderd miljoen jaar ná die Groot Knal gevorm, en hulle het ná net ’n paar miljoen jaar in supernovas aan hul einde gekom.[11] ’n Tweede generasie sterre, dié waartoe HD 140283 waarskynlik behoort, kon nie gevorm het voordat die gas wat in die vroeë sterre se supernovas verhit is, afgekoel het nie.[11] HD 140283 se ouderdom dui daarop dat die tyd wat dit geduur het vir die gas om af te koel, waarskynlik net ’n paar tien miljoen jaar was.[11]