George Claassen (B.A., B.A.Hons., M.A., Ph.D.) is 'n Suid-Afrikaanse joernalis wat die departementshoof van joernalistiek aan Technikon Pretoria en Universiteit Stellenbosch was. Claassen was die eerste akademikus op die gebied van joernalistiek wat 'n kursus in wetenskap- en tegnologiejoernalistiek ontwikkel het en kan met reg die "vader van wetenskapskommunikasie in Afrika" genoem word.[1]
In 1997 het hy die eerste universiteitskursus in wetenskap- en tegnologiejoernalistiek aan 'n universiteit in Afrika ontwikkel en gestig.[2]
Hy was wetenskapredakteur vir die Afrikaanse dagblad, Die Burger en is die stigtersdirekteur van Skepties Suid-Afrika (SSA). Daar word soms na hom verwys as die "Suid-Afrikaanse Richard Dawkins"[3] omdat hy 'n uitgesproke kritikus van kreasionisme en Intelligente Ontwerp is, asook van religie in die algemeen. Hy was gereeld by religieuse debatte betrokke.
Claassen is die direkteur van die Sentrum vir Wetenskap en Tegnologie Massakommunikasie (CENSCOM) aan die Universiteit van Stellenbosch en is die ombudsman van Media24 se Gemeenskapspers. Hy dien ook as wetenskapskorrespondent vir die SAUK.
Opvoeding en loopbaan
Claassen het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer waar hy sy B.A., B.A.Hons en M.A. voltooi het. Hy het 'n Ph.D. aan UNISA behaal. Vanaf 1974 het hy as joernalis by Beeld gewerk in verskillende posisies as verslaggewer van algemene nuus, politiek, kunste, wetenskap en sport. Na vier jaar as sosiolinguistieknavorser aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, het hy by die Departement Joernalistiek van Technikon Pretoria aangesluit, waar hy vanaf 1989 tot 1992 die Departementshoof was.[4] Tussen Oktober 1993 en einde Januarie 2001 was hy professor en hoof van die Nagraadse Departement Joernalistiek aan Universiteit Stellenbosch in die Wes-Kaap. Daar het hy die eerste kursus in wetenskap- en tegnologiejoernalistiek aan 'n Afrika-universiteit gevestig, wat hy steeds by die Universiteit van Stellenbosch aanbied.[5]
Claassen is die direkteur van die Sentrum vir Wetenskap en Tegnologie Massakommunikasie (CENSCOM) aan die Universiteit van Stellenbosch.[6] Hy het talle kursusse in wetenskap en tegnologiejoernalistiek vir UNESCO aangebied in Nairobi, Addis Abeba, Pretoria en op Stellenbosch. In 2013 het hy 'n kursus in wetenskap- en tegnologiejoernalistiek op versoek van UNESCO ontwerp, 'n kursus wat wêreldwyd gebruik word. Die rasionaal agter die kursus is dat joernaliste in die algemeen nie opgelei is in die aanbieding van nuus en inligting oor die vinnig bevorderende en veranderende wetenskapsterrein nie.[1] Hy het ook modules ontwikkel vir die B.Phil- en honneursprogramme oor media etiek en mediabestuur.[1]
In 2003 word Claassen die ombudsman van die Afrikaanse dagblad wat in Kaapstad en Port Elizabeth uitgegee is, Die Burger en sedert 2008 is hy die ombudsman van Media24 se Gemeenskapspers. Claassen het 'n belangrike rol gespeel in die totstandkoming van 'n ombudsman-stelsel binne Media24.[1] Hy was sedert 2011 'n bestuurslid van die internasionale Organisasie van Nuusombudsmanne en Lesersredakteurs.
In Julie 2008 het Claassen uitgetree by die koerant en verskuif na 'n loopbaan as wetenskapjoernalis. Hy doseer steeds wetenskapjoernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en bied 'n jaarlikse kursus in wetenskapskommunikasie aan wetenskaplikes van verskillende universiteite aan. Hy is ook die organiseerder van die gereelde werkswinkels "Wetenskap ontmoet die media op Stellenbosch" (Engels:'Science meets the Media in Stellenbosch') waar wetenskaplikes en joernaliste idees uitruil oor verslagdoening oor wetenskap.[7] Hy is ook 'n wetenskapskorrespondent vir die SAUK.[1]
Kritiek op Leon Rousseau se werk
Tot Augustus 2008 was Claassen die wetenskapredakteur vir die Afrikaanse dagblad Die Burger, gepubliseer in Kaapstad, waar hy 'n weeklikse rubriek oor wetenskap "Wetenskap vandag" geskryf het. Sy resensie oor Leon Rousseau se Die Groot Avontuur, 'n boek oor evolusie, het 'n hewige debat in Afrikaanse koerante laat ontstaan oor sy kritiek op die vooraanstaande evolusiewetenskaplike, prof. Phillip Tobias, vir die skryf van 'n voorwoord vir Rousseau se boek. Claassen se belangrikste kritiek op die boek was dat dit die idee van evolusie deur Intelligente Ontwerp ondersteun. Tobias het later sy mening verander en hom onomwonde van die intelligente ontwerp-dele van die boek gedistansieer in 'n brief gepubliseer in Die Burger.[8]
Erkenning
In Mei 2007 was Claassen die eerste wenner van die SAASTA "Suid-Afrikaanse Wetenskaplikekommunikeerder van die jaar"-toekenning, aangebied deur die Nasionale Forum vir Wetenskap en Tegnologie.[9]
Hy is in 2019 bekroon met die eerste toekenning vir "Lewenslange Prestasie in die Media" deur die Universiteit Stellenbosch.[5]
Geselekteerde publikasies
Boeke
Claassen is die skrywer of mede-outeur van 14 boeke,[1] waaronder Geloof, Bygeloof en Ander Wensdenkery - Perspektiewe oor Ontdekkings en Irrasionalities wat in Julie 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer is en in Februarie 2008 in 'n tweede druk verskyn het. In 2014 is sy boek oor kwaksalwery, Kwakke, Kwinte & Kwale: Hoe 'n Onsinverklikker Jou Lewe Kan Red vrygestel.
Sy werke sluit in:
'n Historiese Blik op die Lae Lande, HAUM, 1982
Claassen, George (1983). "Taalverskeidenheid: 'n blik op die spektrum van taalvariasie in Suid-Afrika". In Kotze, D.A. (red.). Development policies and approaches in Southern Africa. Pretoria: Academica. ISBN978-0-86874-158-1. OCLC10518354.
Claassen, G. N. (2007). Geloof, bygeloof en ander wensdenkery : perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite. Pretoria: Protea. ISBN978-1-86919-144-3. OCLC179773900.
Claassen, George (2014). Kwakke, kwinte & kwale : hoe 'n onsinverklikker jou lewe kan red. Observatory: XLibris. p. 128. ISBN978-0-9814168-9-2. OCLC885298767.
Artikels
Claassen het talle artikels geskryf oor verskillende onderwerpe rondom die media en etiek, waaronder: [10]
Scylla and Charybdis: The rocks of rumour threatening journalism[11]
Dealing with racism and the serpent of confirmation bias[12]
How a journalist took an ethical stand and risked her job[13]
Sosiale media
Claassen was aktief op 'n blog genaamd Prometheus Unbound (op Wordpress) en vanaf 2009 op 'n blog genaamd Prometheus Liberated, [14] maar albei funksioneer nie meer nie. Sedert 2011 is hy aktief op Twitter.[15]
Aanhalings
Claassen het op 13 Februarie 2019, "Wêreld Radio"-dag, 'n onderhoud met John Maytham op CapeTalk-radio gevoer en het die volgende gesê:[16]
Oor media-gehore: "Daar is stemme van verdeeldheid wat soms haatspraak waag."
Oor die rol van die media: "Ons moet die samelewing opvoed sonder om dogmaties daaroor te wees of mense te verneder nie."
↑ 2,02,1Breuer, Rosemarie. "George Claassen". Stellenbosch Writers (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Maart 2016. Besoek op 24 Februarie 2020.
↑"George Claassen (Prof)". censcom.com (in Engels). 20 April 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Februarie 2020. Besoek op 24 Februarie 2020.
↑"CENSCOM - About us". censcom.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Februarie 2020. Besoek op 24 Februarie 2020.
↑"Prometheus Liberated". georgeclaassen.wordpress.com (in Engels). 10 Oktober 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Oktober 2009. Besoek op 25 Februarie 2020.