Die historiese term Duitse Boereoorlog (ook "Rewolusie van die gewone man" genoem) verwys na die boereopstande wat in die vroeë 16de eeu in die suide van die Duitse taalgebied uitgebreek en vanaf 1524 na groot dele van Suid-Duitsland, Thüringen, Oostenryk en Switserland versprei het. Met hul sogenaamde "Twaalf artikels van Memmingen" het die boere eise geformuleer wat as vroeë opeising van menseregte beskou word.
Die opstande in Swabe, Franke, Elsas en Thüringen is in 1525 en in die Keurvorstedom Sakse en Tirool in 1526, gewelddadig onderdruk. Die Duitse boereopstand het historiese voorlopers in Hongarye, Engeland en Switserland.