Die drietoonstrandloper (Calidris alba), in Afrikaans so benoem na aanleiding van sy drietoonpote, is 'n klein waadvoël en langafstandtrekvoël wat in die Noordelike winter suid na Suid-Amerika, Suid-Europa, Afrika en Australië vlieg, In Engels staan die voël as die Sanderling bekend afkomstig van die Ou Engelsesand-yrðling, wat "sandploegman" beteken.[2] Die genusnaam is van die Antieke Grieks kalidris of skalidris, 'n term wat deur Aristoteles gebruik is vir gryskleurige watervoëls. Die spesifieke, alba, is Latyns vir "wit".[3]
Dié sirkumpolêre Arktiese broeivoël is 'n algemene somerbesoeker; veral aan die sandstrande van Suid-Afrika. Die streekbevolking is 85 000 voëls. Drietoonstrandlopers is sosiale diere in die winter en vorm soms groot swerms op kusmoddervlaktes of sandstrande.
In die lente eet die voëls wat noordwaarts van Suid-Amerika migreer, groot getalle hoefysterkrap-eiers in die Delawarebaai-omgewing. Hulle keer dan terug na hulle Hoë Arktiese broeiplekke, waar hulle 3 tot 4 eiers in 'n grondskraap lê. Op die broeigrond vreet hierdie voëls hoofsaaklik insekte en sommige plantmateriaal.
Die drietoonstrandloper is in 1764 deur die Duitse natuurkundige Peter Simon Pallas beskryf en is die binomiale naam Trynga alba gegee.[4][5][6]
Die voël is een van die spesies waarop die Ooreenkoms oor die Bewaring van Afrika-Eurasiese Migrerende Watervoëls (AEWA) van toepassing is.
Beskrywing
Hierdie voël is soortgelyk in grootte aan 'n dunlin, maar stewiger, met 'n dik snawel. Hulle is 19 – 21 cm lank, 45 - 90 g groot met 'n vlerkspan van 42 cm. Hulle kan uitgeken word van ander klein waadvoëls aan hulle tekort aan 'n agtertoon, asook hulle kenmerkende manier van hardloop op sandstrande: 'n "fietsry"-aksie met hulle pote, terwyl hulle kort-kort stop om klein krappe en ander klein ongewerwelde diere op te pik. Die drietoonstrandloper toon 'n sterk wit vlerkstaaf in vlug.
Die drietoonstrandloper is besonders wat sy veredos betref. Gedurende nie-broeiseisoen is die voëls wit van onder en vaal met 'n swart skouer en wit vlerkstreep van bo.[7] Dit is waar die Latynse naam "alba" vandaan kom. In die broeityd verander hulle vere egter na roesrooi en swart gespikkeld. Omdat hulle net gedurende hulle nie-broeiseisoen in Suid-Afrika te sien is (dus somer in die Suidelike halfrond en winter in die Noordelike halfrond), word hulle slegs aan hulle gewone wit-en-swart-verekleed geken. Die roesrooi en swart sal slegs in die Noordelike halfrond gedurende broeityd (dus hulle lente en somer) gesien kan word.